Deur Doreen Mokgolo
Dit lyk of Shebeshxt nege lewens het nadat hy weer die noodlot gefnuik het.
Die Suid-Afrikaanse musikant was in ‘n ongeluk betrokke wat fataal kon wees maar het Dinsdagmiddag sonder enige beserings daarvan weggestap.
Hy het saam met ‘n vriend van Seshego na Polokwane gery toe hy agter in ‘n bakkie vasgebots het.
‘n Bron op die toneel, Thapelo Mogwase, het aan Scrolla.Africa gesê Shebe het teen ‘n hoë spoed gery en probeer om oor ‘n rooi lig te jaag toe hy in ‘n bakkie vasgery het wat stilgehou het.
“Ons het skreeuende bande gehoor wat deur ‘n harde slag gevolg is. Ons het gedink die mense in die GTI sou dood of erg beseer wees,” het hy gesê.
“Ons was geskok toe ons sien hoe die musikant by die bestuurder se deur uitklim. Hy het geen sigbare beserings of enige bloeding gehad om te wys dat hy beseer is nie.”
Die muskant is bekend vir sy rebelse padgedrag en word gereeld op sosiale media gesien terwyl hy met sy aanhangers gesels, ‘n blikkie alkohol en sigaret in die hand terwyl hy bestuur.
Ná die ongeluk het die Lebowakgomo-gebore treffermaker saam met aanhangers vir foto’s poseer asof hy nie sopas ‘n lewensgevaarlike ongeluk oorleef het nie.
Die twee is in ‘n ambulans hospitaal toe geneem, maar is ontslaan nadat hulle deur ‘n dokter ondersoek is.
Shebe het hom (natuurlik!) na sosiale media gewend om bewerings te ontken dat hy vir beserings in die hospitaal opgeneem is.
“Hospitaal toe gehaas ke kwa ka lena mo Facebook, hospitaal gaan ile koloi. Ke nagana gaan reka bergfiets gosasa.”
Losweg vertaal het hy gesê hy het slegs op sosiale media gehoor van sy opname in die hospitaal.
Hy het gesê hy oorweeg dit nou om ‘n bergfiets te koop.
Die musikiant het die afgelope maande onthul dat hy talle aanvalle om sy lewe te neem oorleef het, en het sy voorvaders bedank dat hulle hom nog een keer beskerm het.
Op die foto hierbo: Shebeshxt.
Bron: Facebook