Man oorleef ‘necklace’ poging na petroldoop

Necklace survived

Deur Everson Luhanga

Woedende inwoners het ‘n man gevang wat daarvan beskuldig word dat hy misdade in verskillende areas van Tembisa se Duduza en Tshelopele afdelings gepleeg het.

‘n Motorband is om sy nek gesit en hy is deurdrenk met petrol, en net die vonk van ‘n vuurhoutjie was nodig om sy lewe te beëindig – en toe word hy wonderbaarlik van die dood gered.

Ekurhuleni metropolisiebeamptes het hul normale roetine-patrollies gedoen toe hulle op die toneel afkom. Die beamptes het daarin geslaag om die man te red, en hy is later met sy gesin verenig.

Geen gemeenskapslede is in hegtenis geneem nie.

Dié voorval volg sewe dae nadat ses mense met klippe doodgegooi is in Tembisa se Kanana afdeling in die Rabie Ridge polisiëringsgebied.

In verlede week se moordvoorval het gemeenskapslede vermeende misdadigers gejag, hulle op een plek bymekaargemaak en met klippe doodgegooi. Vyf van hulle is op die toneel dood en die sesde is in die hospitaal dood.

Die polisie het twee verdagtes in verband met dié moorde in hegtenis geneem.

Gautengse provinsiale polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi het destyds gesê: “Twee verdagtes het op 25 Januarie voor die Tembisa-landdroshof verskyn op aanklag van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.”

Kolonel Nevhuhulwi het gesê die polisie doen ‘n beroep op die publiek om nie die wet in eie hande te neem nie.

Verlede week se moorde het informele patrolleerders, wat hulself die Gemeenskapsverdedigingseenheid noem, gedryf om sekuriteit op te skerp en die owerhede te help om misdaad te bekamp.

Die eenheidslede het Saterdag ‘n moordverdagte opgespoor en vasgetrek, wat na die Rabie Ridge polisiestasie geneem is waar ‘n saak van moord geopen is.

“Ons het ‘n moordverdagte in hegtenis geneem nadat ‘n manlike slagoffer na bewering in die vroeë oggendure van Sondag in Mayibuye doodgesteek is,” het ‘n eenheidslid gesê.

Op die foto hierbo: ‘n Man met ‘n ‘necklace’ wat met petrol bestrooi is, is deur Ekurhuleni Metropolisiebeamptes gered.

Bron: Verskaf