Vrou verhoor na sy kollegas se koffie met Viagra vergiftig

Coffee sans viagra

‘n Britse vrou het in die hof verskyn nadat sy op kamera gevang is terwyl sy haar kollegas se koffie vermeng met Viagra – die pil wat uithelp met erektiele disfunksie.

Werkers by Envirograf, ‘n fabriek wat brandbeskermingsprodukte maak, het iets snaaks aan hul koffie begin opmerk. Dit het anders geproe, en klein blou spikkels het op die oppervlak verskyn.

“Nie wat jy sou verwag om in Nescafé te wees nie,” het die aanklaer Matthew Hodgetts aan die hof gesê.

Vasbeslote om agter die kap van die byl te kom het die maatskappy se rekenmeester, Katrina Gravenor, ‘n versteekte kamera by haar lessenaar opgestel.

En dis waar Karen Beale – die fabriek se 62-jarige skoonmaker, wat in die geheim verfilm is terwyl sy ‘n fles Nescafé by Gravenor se lessenaar inspekteer – die prentjie betree.

Die beeldmateriaal wys hoe sy die fles skud terwyl sy latexhandskoene dra, wat volgens die aanklaer hoogs verdagte gedrag was.

Die polisie is in kennis gestel en het ontdek dat flesse kitskoffie by twee van Beale se kollegas se lessenaars met sildenafil, die medikasie wat algemeen bekend staan ​​onder sy handelsnaam Viagra, gemeng is.

Alle oë was op Beale, en sy is vinnig deur die polisie vasgevat en aangekla van poging om gif toe te dien met die doel om te beseer.

Alhoewel sildenafil nie giftig is nie, sê die aanklaer steeds dat Beale haar kollegas probeer benadeel het.

Beale, wat sewe jaar lank as skoonmaker by die fabriek gewerk het, het die bewerings ontken. Sy het gesê sy was besig om die koffie te inspekteer na ‘n versoek van haar baas toe kommer oor die kwessie geopper is.

Die verhoor gaan voort, en dit moet nog gesien word of die jurielede sal opstaan vir reg en geregtigheid.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: ‘n Koppie koffie, sonder Viagra.

Bron: X