Limpopo profeet deur krokodille gevreet

Croc river

Deur Doreen Mokgolo

Terwyl hy in gebed verdiep was, is ‘n profeet Sondagmiddag meegesleur deur die wilde waters van die Lepellerivier in Atok, Limpopo. Sy gedeeltelik verorberde oorskot is twee dae later gevind omring deur krokodille.

Die 48-jarige profeet, wie se naam nog nie deur die polisie bekend gemaak is nie, is deur twee ander profete vergesel toe hulle die oorvol Lepellerivier ingegaan het vir ’n gebedsessie.

Die profeet het toe probleme in die water begin ervaar; hy het gesukkel om kop bo water te hou en is oorweldig deur die vinnig vloeiende stroom.

Hy het sy balans verloor en is meegesleur in die rivier vol krokodille.

Die twee profete wat hom vergesel het, het die polisie en die nabygeleë gemeenskap gebel om te help soek nadat hulle hom nie kon kry nie.

Limpopo polisiewoordvoerder Kolonel Malesela Ledwaba sê lede van die SAPD se watervleuel en soek-en-reddingseenheid saam met mediese nooddienste het met soektogte begin.

“Die oorskot van die oorlede profeet is Dinsdagmiddag ontdek omring deur krokodille. Daar word vermoed dat hy deur krokodille aangeval is,” het Ledwaba gesê.

Generaal-majoor Jan Scheepers het die voorval as ongelukkig beskryf en gesê dit was vermybaar as die nodige voorsorgmaatreëls getref was.

“Gemeenskappe moet groot versigtigheid aan die dag lê tydens die reënseisoen. Hulle moet nie hul lewens in gevaar stel deur riviere, damme of strome binne te gaan sonder om moontlike gevare wat wilde diere inhou in ag te neem nie,” het hy gesê.

Op die foto hierbo: Die Lepellerivier.

Bron: Krugerwildtuin