Deur Michael Madyira
Die Afrikabeker-toernooi (Afcon) het bewys dat dit vanjaar ‘n opdraande pad vir kontinentale swaargewigte is.
Ghana en Algerië is twee van die reuse wat in die stof gebyt het ná swak uiteindes in die groepfase.
Hulle gaan huis toe nadat hulle met sterbelaaide groepe in die Ivoorkus aangekom het en as toernooi-gunstelinge beskou is.
Die Black Stars het afrigter Chris Hughton afgedank nadat hulle derde in Groep B geëindig het met net twee punte uit drie wedstryde.
“[Hy] is met onmiddellike effek onthef van sy pligte as hoofafrigter van die senior nasionale span,” het die Ghana-sokkervereniging aangekondig.
Nadat hulle ook in die groepfase in 2021 uitgeskakel is, ervaar Ghana nou moontlik die donkerste dae van hul sokkergeskiedenis.
Hulle is nou op soek na hul vyfde afrigter in drie jaar – ‘n aanduiding van dieper probleme in die land se sokker geledere.
Algerië het ook hul Afcon-veldtog in die groepfase beëindig, net soos in 2021 toe hulle as verdedigende kampioene in Kameroen aangekom het.
Die toekoms van die afrigter, Djamel Belmadi, is onseker nadat sy span onderaan Groep D beland het met net twee punte.
Terwyl Ghana en Algerië die grootste kanonne is om vroeg huis toe te gaan, was dit ook ‘n moeilike Afcon vir rekordkampioene soos Egipte, Nigerië en Kameroen wat alles moes uithaal om by die Rondte van 16 in te sluip.
Gambië se afrigter, Tom Saintfiet, het uit sy pos bedank nadat die span onder in Groep C geëindig het.
Gashere Ivoorkus hou tans hul asem op want hul lot is nog onbekend, maar hou duimvas dat hulle deur die derde-beste pas na die uitkloprondtes sal deurdring.
Op die foto hierbo: Chris Hughton, voormalige afrigter van Ghana
Bron: Ghana Football Association