Die lang pad na onderwys

Get us to school!

Deur Anita Dangazele

Duisende leerders in die Oos-Kaap het steeds nie in hul klaskamers kon sitplek inneem nie, omdat hul skoliervervoer nie opgedaag het nie.

Met die OK se Departement van Vervoer wat aanvoer dat kontrakte verval het, en ‘n versuim om nuwe operateurs aan te stel, wag baie leerders in die provinsie tevergeefs langs die paaie vir skoliervervoer.

Ander het besluit om plakkate vas te hou wat vra vir ‘n saamrygeleentheid skool toe. Baie het geen ander keuse as om skool te mis nie, terwyl ander lang afstande stap of duimgooi.

Leerders van die klein kusdorpie St Francisbaai, wat in die naburige Humansdorp skoolgaan, begin hul reis om 6vm vir die 21km-staptog skool toe.

Hierdie leerders sê dat hulle, nadat hulle verlede week gestrand gelaat is, die riskante besluit geneem het om skool toe te stap soos in die verlede.

“Ons wil betyds by die skool kom. Ons het geen ander keuse as om sesuur die oggend met ons tog te begin nie. Ons wil nie agterbly in ons skoolwerk nie,” het Maurizio Daniels, ‘n Graad 12-leerder by Humansdorp Sekondêre Skool, gesê.

Intussen het die distriksonderwyskantoor in Nelson Mandelabaai Dinsdag ‘n gemeenskapsvergadering in Kuyga-township gehou om bekommerde ouers toe te spreek.

Onderwysbeamptes het aan die gemeenskap gesê dat hulle die name van leerders en hul skole vroegtydig aan die vervoerdepartement gegee het.

Thozamile Qushani, ‘n lid van die skoolbeheerliggaam by Rocklands Sekondêr, het gesê 384 hoërskoolleerders bly tans tuis.

“Ons het een laerskool in hierdie township, so die meeste van die kinders word na ses ander laerskole in naburige townships vervoer.

“In totaal het ons 750 leerders [insluitend die 384 hoërskoolleerders] wat nog by die huis sit en wag vir die [provinsiale] departement van vervoer om ‘n oplossing te vind,” het Qushani gesê.

Unathi Binqose, woordvoerder van die Departement van Vervoer, het gesê die departement het onverwagte vertragings ondervind met die aanstelling van nuwe operateurs aangesien die vorige jaar se kontrakte verstryk het.

“Dit sluit in die byvoeging van nuwe roetes sowel as nuwe skole tot die stelsel. Ons werk egter daaraan om vinnig ‘n oplossing vir die probleem te vind,” het Binqose gesê.

Malibongwe Mtima, woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, het gesê skole sal inhaalplanne maak vir leerders wat deur die skoliervervoervertragings geraak is.

Op die foto hierbo: Oos-Kaapse leerders wag vir skoliervervoer

Bron: verskaf