Die Slimdorp-titel spruit uit ‘n unieke projek met Eskom, wat die dorp in staat stel om sy eie elektrisiteitsverbruik te bestuur.
Clarens is bekend vir sy kunsgemeenskap en pragtige omgewing en is grootliks afhanklik van die toerismebedryf. Die dorp het nou die tegnologie verwelkom om elektrisiteitsladingbestuur beter te hanteer.
Eskom het die dorp se gereedheid vir hierdie projek beklemtoon vanweë sy infrastruktuur, wat slimmeters en laaistasies vir elektriese voertuie insluit, sowel as verskeie kleinskaalse kragopwekkers.
Hierdie nuwe stelsel, bekend as “groepsinkorting”, is ‘n gemeenskapsgeleide benadering tot die bestuur van die aanvraag na elektrisiteit, veral tydens kragtekorte.
Die hele gemeenskap in Clarens werk saam om elektrisiteitsverbruik te verminder wanneer Eskom dit aanbeveel.
Hierdie kennisgewing word twee uur vooraf gegee en die vereiste vermindering moet regdeur beurtkrag gehandhaaf word.
Om hierdie proses te bestuur, is ‘n toepassing ontwikkel wat inwoners waarsku wanneer hulle hul kragverbruik moet verminder.
Die dorp se elektrisiteitsaanvraag word intyds gemonitor e,n wanneer nodig, word inwoners gevra om verbruik verder te verminder.
Gert Kruger, die projek se koördineerder in Clarens, het gesê vir ‘n dorp so afhanklik van toerisme soos Clarens is dit van kritieke belang om beurtkrag te vermy.
Die projek maak staat op die deelname van beide inwoners en besighede. Die gemeenskap ondersteun die projek en almal trek voordeel uit die groepspoging.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: Clarens
Bron: Clarens.co.za