Miskien verdien Oz-rugby die verloor

Joe Schmidt

Deur Lucky Vince Pienaar

Dit is moeilik om ‘n tyd te onthou toe Australië een van die mees gevreesde spanne op die rugbyveld was – ‘n tyd toe ‘n oorwinning oor die Wallabies ‘n groot prestasie vir enige land was.

Dit is selfs moeiliker om te onthou dat hulle die Rugbywêreldbeker in 1991 en weer in 1999 gewen het.

Die blote noem van name soos David Campese, Nic Farr-Jones, John Eales, Tim Horan, Stephen Larkham en George Gregan het ontsag afgedwing by diegene wat teen hulle moes speel.

By die Wêreldbeker in 2023 het hulle in die groepfases uitgeval – ‘n eerste keer vir die eens trotse Wallabies.

En reeds voorspel Australiese “ou getroues” die span se ondergang na die aanstelling van Joe Schmidt as hoofafrigter – met die meeste van hulle wat kla dat hy nie ‘n Australiër is nie.

Schmidt is ‘n Nieu-Seelander, maar hy is ook ‘n professionele persoon en op die kruin van sy golf.

Schmidt het drie Sesnasies-krone in sewe jaar as hoofafrigter van Ierland gewen en hulle van ‘n watertrapspan tot een van die bestes ter wêreld gelei.

Schmidt sal die Wallabies vir die volgende twee seisoene afrig tot ná die Britse en Ierse Leeus-toer in 2025, wanneer hy swaarde sal kruis met Leeus-afrigter Andy Farrell – ‘n man wat hy gementor het om ‘n top internasionale afrigter te word.

Nie net is Schmidt op die oomblik een van rugby se topafrigters nie, maar het ook bewys dat hy puik spanne van die grond af kan bou.

Maar dis broodnodig dat die land hulle agter hom skaar. As die Aussie-ondersteuners dit regkry om hom af te breek voordat hy nog begin het, verdien hulle dalk om ‘n verloorspan te wees.

Op die foto hierbo: Joe Schmidt

Bron: X