Deur Dylan Bettencourt
Dricus du Plessis het Sondagoggend sy titelgeveg teen Sean Strickland as die buiteperd, en met goeie rede, begin.
Daar was min kans dat Du Plessis die knoop sou deurhaak.
Hy het voor dit nog net ses keer in die Ultimate Fighting Championship (UFC) geveg en in geen van sy vorige professionele gevegte het hy verby die derde ronde gevorder nie.
Baie kenners het gevoel die Suid-Afrikaner mag wen, solank die geveg nie te lank aanhou nie.
Dit is hier waar Du Plessis gewys het dat hy die hart van ‘n leeu het, want hy het die leeukuil betree en nooit teruggedeins nie.
Daar was ‘n oomblik waar Du Plessis gewys het dat hy, ongeag die uitslag, trots was op wat hy bereik het.
Tydens die vierde en vyfde rondes, toe baie van die kampioen Strickland verwag het om te oorheers, het Du Plessis die skare opgerui en sy bors geklop.
Daar word in die UFC gesê as jy die kampioensgordel wil wen, jy die aggressor moet wees – en dit is presies wat Du Plessis was.
Die 30-jarige het in die middel van die agthoekige kryt gestaan en vir vyf rondes die druk op Strickland geplaas sonder om een keer terug te staan.
Du Plessis het sy verskeidenheid vaardighede – sy boksvermoë, skopvermoë en stoeikrag – ordentlik afgewys.
Strickland het egter die oorhand gehad wat boksvaardighede betref.
Du Plessis het die gordel met ‘n kortkoppie gewen, maar die oorwinning beteken soveel meer as om net die nuwe middelgewigkampioen te wees.
Deur geskiedenis te maak, inspireer Du Plessis sonder twyfel duisende jong Suid-Afrikaners om in sy voetspore te volg.
Du Plessis is dalk die eerste Suid-Afrikaanse kampioen, maar sy harde werk staan ‘n kans om baie meer kampioene landwyd te skep.
Meer jong seuns en meisies sal hul ouers vra om hulle na ‘n Mixed Martial Arts (MMA) gimnasium te neem, en daar sal in die toekoms baie meer van dié wees wat die kollig kan steel.
Du Plessis het ‘n generasie jongmense aangevuur wat hul land op die wêreldverhoog wil verteenwoordig.
Daar is egter kontroversie rondom die nuwe kampioen, aangesien daar altyd die verste van bo-af geval word.
‘n Video uit 2020 het weer opgeduik, van Du Plessis wat beweer dat plaasmoorde gelykstaande is aan volksmoord in Suid-Afrika, en elke dag plaasvind.
Baie Twitter-gebruikers het hul mening oor Du Plessis verander en hom ‘n onsuksesvolle toekoms toegewens.
Op die foto hierbo: Dricus du Plessis
Bron: X