‘n 80-Jarige man van Indië – Darshan Singh Brar, wat dood verklaar is – het weer springlewendig geword nadat sy ambulans ‘n slaggat getref het.
Brar, wat dae lank siek was, is na ‘n hospitaal geneem en met ‘n erge borsinfeksie gediagnoseer, wat sy harttoestand verswak het.
Na vier dae op ‘n ventilator het dokters hom dood verklaar. Op pad na Nising in Haryana het die ambulans egter ‘n diep slaggat naby die dorpie Dhand getref, en Brar het onverwags tekens van lewe getoon.
Brar se familie, wat saam met hom in die ambulans was, het gesien hoe sy hand beweeg en besef hy het ‘n polsslag. Hulle het die bestuurder dadelik na die naaste hospitaal verwys.
By die hospitaal het dokters bevind Brar haal asem en het ‘n polsslag en bloeddruk. Hulle kon nie sy vorige doodsverklaring bevestig nie en het voorgestel dat die ander hospitaal moontlik tegniese probleme gehad het.
Snaaks genoeg is dit nie die eerste keer dat ‘n slaggat handjie bysit met mediese hulp nie. ‘n Manlike pasiënt in Amerika met borspyne het verklaar dat hy beter voel nadat die ambulans waarin hy vervoer is ‘n slaggat getref het.
Suid-Afrikaners ken slaggate maar te goed en spandeer baie tyd om daaroor te kla (soos mens moet), maar dis dalk nie so erg soos ons dit voor uitkryt nie. Daar is egter nog geen gevalle aangemeld van slaggate in Suid-Afrika wat iemand se lewe gered het nie.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: ‘n Slaggat
Bron: Stock