Deur Michael Madyira
Bafana Bafana het in saaklike styl perfek gereageer op verlede week se nederlaag teen Mali, met Sondag se 4-0 sege oor Namibië in die Afrikabeker-wedstryd se Groep E.
Themba Zwane het die aand se groot hoogtepunt voorsien, met die Mamelodi Sundowns-speler wat die teiken getref het op die 25 minute merk, voordat hy sy puntebydra vyf minute voor rustyd verdubbel het.
Percy Tau het die sluise by Stade Amadou Gon Coulibaly oopgemaak met ‘n strafdoel op die 14de minuut.
Plaasvervanger Thapelo Maseko het toe die oortuigende oorwinning beklink met 15 minute oor, en Suid-Afrika het sodoende die verste wen van hierdie Afcon-toernooi sover aangeteken.
Dit was nog ‘n suksesvolle uitstappie vir Bafana teen Namibië by Afcon, nadat hulle ook voorheen die buurland in 1998 en 2019 geklop het.
Sondag se uitslag het Hugo Broos se manne van die onderkant van Groep E tot tweede laat skuif voor hul laaste wedstryd teen Tunisië, terwyl Namibië na derde plek geval het.
Broos het twee veranderinge aangebring van die beginspan wat met 2-0 verloor het teen Mali: Thapelo Morena het vir Maseko vervang en Siyanda Xulu het plek gemaak vir Grant Kekana om ‘n slegs-Sundowns agterste vier te voltooi.
Broos se Namibiese eweknie Collin Benjamin het gekies om nie te peuter met die span wat Tunisië verlede week met 1-0 verstom het nie.
Terwyl die twee spanne hulself in die wedstryd probeer vestig het, het die AmaZulu-ster Riaan Hanamub binne die boks ‘n hanteringsfout gemaak tydens ‘n skermutseling met Morena. Bafana het dus in ‘n tweede agtereenvolgende wedstryd ‘n strafskop ingepalm.
Tau het gedurf om die skop te neem en verby Chippa United se doelwagter, Lloyd Kazapua, te skiet om op te maak vir verlede week se mis teen Mali.
Namibië het daarna op 23 minute probeer reageer, maar Deon Hotto het ‘n ommesientjie te stadig opgedaag om ‘n Hanamub-kruis met die kop in te slaan.
Kort daarna het Suid-Afrika die Brave Warriors verder ontwrig toe Themba Zwane ‘n kruisskop van Morena goed gebruik het.
Bafana het die oorhand geniet en Zwane het toe met nog meesterlikheid vorendag gekom: sy bal het verby Kazapua gekrul nadat hy vinniger kon nael as die Namibiese verdediger op linkerflank om dit 3-0 te maak.
Hoewel Namibië na rustyd teruggeveg en meer balbesit geniet het, het dit nooit punte opgelewer nie.
Hulle laaste hoop het verflou toe plaasvervanger Maseko die wedstryd beklink het met ‘n skoot wat te blitsig was vir Kazapua om te keer – sy poging om die bal te stop het dit weliswaar die net in gehelp.
Op die foto hierbo: Bafana Bafana-aanvaller Themba Zwane veg vir die bal teen Namibiese verdediger Kennedy Amutenya
Bron: Bafana Bafana