Deur Buziwe Nocuze
Twee taxi-eienaars is Woensdagmiddag in Kaapstad se Nyanga-township doodgeskiet.
‘n Inwoner, wat anoniem wou bly, het die geweerskote gehoor terwyl sy na ‘n winkel gestap het.
“Ek was naby die winkel toe ek die skote hoor. Mense het in verskillende rigtings begin hardloop. Ek het ook gehardloop omdat ek nie in die kruisvuur gevang wou word nie,” het sy gesê.
Ná ’n paar minute het sy gehoor hoe mense sê die slagoffers is dood en kan nie eens hospitaal toe geneem word nie.
“Ek het uitgekom omdat dit veilig was. Ek het gehoor die slagoffers was taxi-eienaars wat deur onbekende verdagtes geskiet is wat met die voertuig van die toneel gevlug het,” het die inwoner gesê.
Passasier Amanda Dlula bid dat die voorval nie ‘n taxi-oorlog sal ontketen nie.
“Ons is paniekerig. Ons weet nie wat ná hierdie voorval gaan gebeur nie. Ons bid dat dit nie op ‘n taxi-oorlog gaan uitloop nie, want ons weet almal dat onskuldige mense gaan seerkry,” het Dlula gesê.
“Ons kan nie nog ‘n taxi-oorlog bekostig nie. Die laaste een was baie erg – onskuldige lewens is verloor, ons kon nie teruggaan werk toe nie en was vasgekeer in ons huise.”
Sy het gesê niemand weet hoekom die taximanne geskiet is nie.
“Maar ons is bang. Ek glo die taxibedryf sal ons nie kritiseer omdat ons die ergste verwag nie, want ons het al gesien hoe hierdie goed begin en eindig,” het sy gesê.
Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Kaptein FC van Wyk het gesê die Nyanga-polisie ondersoek ‘n dubbele moord waar twee mans geskiet en noodlottig gewond is.
“Die motief vir dié voorval vorm deel van die polisie-ondersoek. Die verdagte of verdagtes het van die toneel af gevlug en moet nog in hegtenis geneem word,” het Van Wyk gesê.
Op die foto hierbo: Twee taxi-eienaars is in Nyanga doodgeskiet, wat passasiers in ‘n toestand van skok gelaat het
Bron: Verskaf