Deur Anita Dangazele
Teen 82.9% spog die Klas van 2023 met die hoogste slaagsyfer sedert die aanbreek van demokrasie.
Altesaam 897,775 leerders het in November die 2023 matriekeksamen afgelê.
Op hul eerste dag in Graad 1 was daar 1.2 miljoen leerders, maar duisende het oor die jare uitgeval.
Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga het Donderdagaand die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) uitslae in Randburg bekend gemaak.
Die Vrystaat het sy oorheersing met 89.3% behou, terwyl KwaZulu-Natal almal verras het deur die tweede plek met 86.36% in te neem. Gauteng het die derde plek behaal met 85.38%.
Noordwes, Wes-Kaap en Oos-Kaap het almal merkwaardig goed gevaar en met minder as ‘n persentasiepunt verskil teen onderskeidelik 81.63%, 81.54% en 81.42%.
Intussen het Limpopo in die onderste drie voorgeloop met die hoogste verbetering teen 79.54%, gevolg deur Mpumalanga met 76.95% en die Noord-Kaap aan die onderkant met 75.84%.
Die aantal baccalaureusslagings het toegeneem tot 40.9% in 2023 – van 38.4% in 2022.
Dit is onthul in die tegniese inligtingsverslag deur Mathanzima Mweli, Direkteur-generaal van Basiese Onderwys.
“Om jou net ‘n idee te gee, uit 10 leerlinge het vier leerlinge baccalaureus vrystelling, in terme van die 900,000 kandidate wat in 2023 vir die NSS ingeskryf het – wat beteken dit het toegeneem vanaf verlede jaar,” het hy gesê.
Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het vroeër aangekondig dat leerlinge wat eksamen deur die IEB geskryf het, ‘n 98.46% slaagsyfer in die 2023-eksamen behaal het. Dit was ‘n effense verbetering van 98.42% in 2022.
Op die foto hierbo: Klas van 2023 nasionale toppresteerders tydens die bekendmaking van die matriekuitslae Donderdagaand in Randburg
Bron: Gauteng Departement van Onderwys / X