Deur Celani Sikhakhane
Simlindele Khumalo, ‘n 19-jarige plattelandse matriekleerling van Hoërskool Ondini, het verwagtinge oorskry en is nou ‘n held in sy dorpie kwaCeza in uLundi.
Hy is deur Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, genooi om Donderdagaand deel te wees van ‘n seremonie by die Mosaïek-kerk in Randburg om as een van die land se toppresteerders vereer te word.
Simlindele het die afgelope jaar onverpoosd gewerk en geweier dat meer as 300 dae se beurtkrag hom van koers af stuur.
Simlindele se huis, waar hy saam met sy enkelma en sibbes woon, was Dinsdag ‘n miernes van bedrywighede nadat hy die minister se uitnodiging ontvang het.
Die slimkop het aan Scrolla.Africa gesê sy liefde vir leer en die raad van sy oom Phakamani Mtshali, wat ‘n onderwyser by James Nxumalo Landbouskool is, het hom gehelp om goed voor te berei vir eksamens.
“Ek is dankbaar teenoor my oom en my onderwysers vir hul harde werk wat tot hierdie viering gelei het. Ek bedank ook my mede matriek studente. Ons werk hard om die toppresteerders van ons skool te wees,” het hy gesê.
“Saam met my medestudente eer ons God in alles wat ons doen omdat ons glo dat dit nie ons intelligensie alleen is wat ons help om uit te blink in ons studies nie.”
Hy sien uit om sy punte te ontvang in die vakke Wiskunde, Lewenswetenskap, IsiZulu, Engels, Fisiese Wetenskap en Rekeningkunde.
Sy trotse ma Scelokuhle Khumalo, 43, het gesê dit is die eerste van haar kinders wat matriek voltooi.
“Hy is die oudste van drie kinders. Sy sibbes sal sy voorbeeld moet volg omdat hulle nog in laer grade is. Ek het hom alleen grootgemaak omdat sy pa ons verlaat het toe Simlindele in Graad 1 was.
“Sy pa leef maar woon elders. Ná hierdie nuus het ek nie eens ‘n oproep van hom ontvang om sy seun geluk te wens nie,” het sy gesê.
Ondini skoolhoof Ntombifuthi Cookman het gesê hulle is trots op Simlindele en sy matriekklas van 2023.
Ulundi burgemeester Wilson Ntshangase en van sy uitvoerende beamptes het Simlindele besoek en geld aan hom oorhandig vir sy reis na Randburg.
Hy het Woensdag sy eerste vlug ooit beleef toe hy saam met sy ma en oom Gauteng toe gevlieg het om Donderdag se matriekuitslagseremonie by te woon.
Simlindele se volgende stop is Ikeys in Kaapstad – een van drie universiteite wat sy aansoek aanvaar het. Hy beplan om medies te studeer en as neuroloog te spesialiseer.
Op die foto hierbo: Topmatriekpresteerder Simlindele Khumalo saam met skoolhoof Ntombifuthi Cookman, links, en Ulundi burgemeester Wilson Ntshangase
Bron: Verskaf