Andreeva ontspoor Jabeur se Aussie Ope-veldtog

Mirra Andreeva

Deur Razeen Gutta

Die tienersensasie Mirra Andreeva het Woensdag die sesde gekeurde Ons Jabeur in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel.

Die 16-jarige het weer gewys hoekom sy een van die sport se mees belowende sterre is, aangesien sy haar heldin binne minder as ‘n uur oorrompel het.

Andreeva se oorwinning het daartoe gelei dat sy die jongste speler in die Ope-era geword het wat ‘n openingstel van 6-0 teen ‘n top-10 gekeurde speler by ‘n groot toernooi behaal het. Die uitslag beteken dat sy vir die heel eerste keer na die derde ronde van die Australiese Ope vorder.

As 47ste gekeurde in die wêreld, was die Rus die ene grasie ná die wedstryd en het Jabeur ‘n inspirasie genoem.

“Dit was een van my drome om teen haar te speel, want ek hou baie van die manier waarop sy speel. Soos ek voorheen gesê het, is ek deur haar geïnspireer, so dit beteken vir my baie,” het sy gesê.

“Nou, ná die wedstryd, het sy na my toe gekom en my gelukgewens. Ek weet net dat sy is wie sy is en sy verander nooit nie. Dit is waarom ek van haar hou.”

Dit was ‘n groot dag vir die Russe toe kwalifiseerder Maria Timofeeva teruggeveg het om die voormalige wêreld nommer een Caroline Wozniacki te klop.

In net haar tweede groot toernooi sedert sy ma geword het, het Wozniacki ‘n voorsprong van 6-1 laat glip toe sy die oorblywende stelle met 6-4, 6-1 verloor het.

Op die foto hierbo: Mirra Andreeva

Bron: @jjlovestennisit