Deur Michael Madyira
Percy Tau het ‘n strafdoel gemis toe Bafana Bafana Dinsdag met 2-0 teen Mali verloor het tydens hul eerste wedstryd in die Afrikabeker-toernooi Groep E, in Ivoorkus se Stade Amadou Gon Coulibaly.
Mali het die dooiepunt deur Hamari Traore op die uurmerk gebreek voordat Lassine Sinayoko ses minute later hul voordeel verdubbel het om reguit na die groep se boonste rang te vorder.
Bafana hang nou onderaan die rangleer nadat Namibië vir Tunisië vroeër die aand met 1-0 verstom het.
Dinsdag se uitslag laat Suid-Afrika nou met ‘n moet-wen-situasie om uitskakeling te vermy wanneer hulle die Brave Warriors Sondag aanvat.
Suid-Afrika se Minister van Sport, Zizi Kodwa, wat langs Safa-president Danny Jordaan gesit het, het angstig gekyk hoe Percy Tau in die 19de minuut ‘n strafdoel gemis het.
Daar was verbasing oor die feit dat Mothobi Mvala in die begingroep was, ten spyte van afrigter Hugo Broos wat verlede week die indruk gegee het dat die speler sukkel met sy fiksheid.
Die vinnige Mamelodi Sundowns-vleuel Thapelo Maseko was nog ‘n verrassende beginner, met Orlando Pirates se voorspeler Evidence Makgopa wat die aanval gelei het.
Yves Bissouma, middelveldspeler van Tottenham Hotspur, was die ster van Mali se span toe die Eagles vasgeklou het aan hul onoorwonne rekord: om nooit ‘n Afcon-openingswedstryd te verloor nie.
Mali het die eerste aanslag op die doel gehad na agt minute, toe RB Leipzig-middelvelder Amadou Haidara ‘n aanval geloods het wat ‘n indrukwekkende duikslag van Ronwen Williams uitgelok het.
Minute later was dit die beurt van Williams se teenoorgestelde nommer Djigui Diarra om ‘n stokkie te steek voor Themba Zwane se poging met die skopstewel.
Na ‘n voorval wat lank geneem het om deur die TV-skeidsregters hersien te word, toe Sikou Niakate vir Makgopa in die net ge-elmboog het, is ‘n strafdoel aan Bafana toegeken – maar Tau het sy skop ver van die teiken af geplaas.
Op 34 minute het Tau belowend uit ‘n skerp hoek gemik, maar was gefrustreerd om te sien hoe Diarra sy poging fnuik.
Mali het amper die voortou geneem op die randjie van rustyd toe Sinayoko teen Williams te staan gekom maar vreemd genoeg wyd geskop het.
Traore was dankbaar toe hy maklik toegeslaan het op Williams se keer van Sekou Koita se vryskop om ‘n telling op die bord te kry.
Bafana was nog besig om te herstel na hierdie terugslag, maar word toe verder gefrustreerd deur Sinayoko se doelskop wat deur Kamory Doumbia aangegee is.
Die wedstryd was reeds uit Suid-Afrika se hande toe Tau weer gefaal het, hierdie keer gestop deur die regop-pale teen die 90-minute merk.
Op die foto hierbo: Bafana Bafana-aanvaller Percy Tau ontglip Mali-verdediger Falaye Sacko
Bron: Bafana Bafana