Deur Buziwe Nocuze
‘n Vrou se lewe is beëindig deur ‘n onwettige verbindingskabel wat haar in haar erf in Philippi getref het terwyl sy besig was met wasgoed.
Khangelwa Ndlebe, 48, was Donderdag om 2nm besig om klere in haar erf te was toe ‘n vragmotor wat verantwoordelik was vir die skoon- en leegmaak van hul toilette – bekend as Mshengu-toilette – opgedaag het.
Die vragmotor was besig om te vertrek toe een van die inwoners die werkers gebel het om hulle te laat weet dat hulle ‘n paar toilette vuil gelaat het.
“Die vragmotor het agteruit gery en teen ‘n paal gebots wat deur sommige inwoners vir hul onwettige elektrisiteitsverbindingskabels gebruik is,” het Sindiswa Nyengule, Khangelwa se suster, gesê.
Die kabels het van die paal losgebreek en een van hulle het Khangelwa op die hand getref en haar bewusteloos gelaat.
“Ek het ‘n oproep ontvang terwyl ek by die werk was om my in te lig oor die ongeluk. Die kabel het deur haar erf geloop na huise waar inwoners elektrisiteit onwettig aangesluit het,” het Sindiswa gesê.
“My suster het die wettige Eskom-elektrisiteitsboks in haar huis. Sy het nie elektrisiteit onwettig verkry nie.”
Wat die familie nog verder bedroef is dat, al het die voorval reeds verlede Donderdag gebeur, geen van die kabels se eienaars nog om verskoning kom vra het nie. Selfs die vragmotorbestuurders het die gebied dadelik verlaat.
“Die vragmotorbestuurder en werknemers is meegedeel, maar hulle het besluit om te vertrek sonder om te kyk of sy okei is.”
Die slagoffer is na die hospitaal gehaas, maar is daar dood verklaar.
“Ons verlang bystand om haar te kan begrawe, al is dit van die skoonmaakmaatskappy, want as hulle nie die paal omgestamp het nie, sou my suster nog gelewe het,” het Sindiswa gesê.
Luthando Tyhalibhongo, woordvoerder van die Stad Kaapstad, het die voorval bevestig.
“Ons betuig ons meegevoel aan die familie van die slagoffer. Die voorval word tans deur die SAPD ondersoek, en geen verdere kommentaar kan tans deur die Stad verskaf word nie,” het Tyhalibhongo gesê.
Hy het gesê Philippi is een van die gebiede wat veral swaar ly deur onwettige verbindings.
“Die Stad se Energieveiligheidspanne en Wetstoepassingsagentskappe, met die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het reeds gereelde onwettige ontkoppelingsoperasies in die gebied uitgevoer,” het Tyhalibhongo gesê.
Op die foto hierbo: ’n Vrou van Philippi is dood nadat sy deur ‘n onwettige verbindingskabel geskok is terwyl sy besig was om wasgoed te was
Bron: Buziwe Nocuze