Deur Zukile Majova
Die Stad Johannesburg is uiteindelik gereed om die dienstonnel te begin regmaak en Lillian Ngoyistraat in die SSK te herbou.
‘n Metaangas-ontploffing het in Julie 2023 deur die straat wat voorheen as Breestraat bekend was, geruk. Die ontploffing het een persoon gedood, 48 ander beseer en 37 voertuie in Bree- en Rissikstraat beskadig.
Miljoene rande se belastingbetalersgeld is sedertdien in die drein af.
Die stadsvaders het beweer dat hulle die straat en verskeie aangrensende strate wat ook gedeeltelik in die ontploffing beskadig is, afgesper het.
In die eerste maand het die stad gesê hy het meer as R4 miljoen bestee om Lilian Ngoyi-straat met doringdraad te beveilig.
Die waarheid is dat die sogenaamde rampsone nooit beveilig is nie en die publiek trek daagliks oor die puin met geen Metropolisie wat hul toegang versper nie.
Van die geld is bestee aan kundiges en eksterne konsultante, gasontleders en rampsone-ingenieurs.
Johannesburg burgemeester Kabelo Gwamanda het voorheen by ‘n media-inligtingsessie gesê dat sowat R178 miljoen benodig sal word om die dienstonnel onder die geaffekteerde strate te herbou. Verdere fondse sal gebruik word om die paaie te herbou en te herstel.
Gwamanda moet die media Donderdag inlig oor die amptelike begin van die proses om die gebied te rehabiliteer.
“‘n Ondersoek na die ontploffing is onderneem en afgehandel en die stad is nou in ‘n posisie om met die rehabilitasiewerk aan Lilian Ngoyistraat te begin,” het die Stad in ‘n verklaring gesê.
Die ontploffing het vrese bevestig dat die Stad die vaardighede van ervare personeel in sy ingenieurs- en rampbestuurdepartemente verloor het.
Die volgende is op ‘n konsultasiebasis ingebring:
· ‘n Brandspesialis met ondervinding in industriële ontploffings en gasstelsels
· ‘n Ingenieur wat ‘n internasionale spesialis in branddinamika en ontploffingsimulasie is
· Spesialiste in ontploffing, gas en branddinamika
· ‘n Struktuuringenieur
· ’n Geotegniese ingenieur
· ‘n Elektriese ingenieur
· ‘n Siviele ingenieur
· ‘n Forensiese spesialis
· ‘n Beroepsgesondheids- en veiligheidskundige.
Op die foto hierbo: Johannesburgse burgemeester Kabelo Gwamanda word deur Ingenieurs ingelig
Bron: X