‘n Vlieënier van British Airways is glo ontvoer en gemartel tydens ‘n tussenstop in Johannesburg.
Daar was vir hom ‘n lokval gestel toe ‘n vrou hom gevra het om te help om sakke na haar motor toe te dra buite die Checkers Bluebird Supermark naby Melrose Arch in Corlettrylaan.
Toe hulle by die motor aankom, is hy met geweld deur ‘n groep mans oorrompel.
Die hotel in Melrose Arch, waar die bemanning oornag het, word as een van die veiligste dele van Johannesburg beskou.
British Airways het beleide wat personeel beperk om sekere areas van die stad te besoek weens veiligheidskwessies.
Die vlieënier, wie se identiteit nog onbekend is, is na ‘n afgeleë gebied van die stad geneem waar hy fisies aangerand is.
Luidens ‘n berig in The Daily Mail is die vlieënier so erg beseer dat hy nie die retoervlug na Londen kon aanvoer nie en vervang moes word.
Hy het duisende ponde aan sy aanvallers oorhandig en is sedert die voorval met verlof; hy ontvang ondersteuning van sy kollegas.
‘n Bron het die voorval as “verstommend” beskryf en dit met ‘n toneel uit ‘n fliek vergelyk.
British Airways het in reaksie op die voorval bevestig dat “‘n bemanningslid buite Checkers Bluebird Supermark net noord van die Melrose Arch-kompleks ontvoer is”.
Dit is onduidelik wanneer die voorval plaasgevind het.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto hierbo: British Airways-vliegtuig.
Bron: X