Deur Zukile Majova
Bestuurders by verskeie Eskom-kragstasies het die groen lig gekry om prestasiebonusse vir hul personeel voor te berei na ‘n “beurtkragvrye” feesseisoen.
Minister van Elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa, wat vet Kersbonusse aan Eskom-werknemers belowe het as hulle die ligte kon aanhou, is tevrede met die feestydvertoning by die steenkoolherd.
Hy het Dinsdag op ‘n media-inligtingsessie gesê die lae vlakke van beurtkrag gedurende die feesseisoen is te wyte aan beplande instandhouding en nie die versuim van Eskom om in aanvraag te voorsien nie.
“Gedurende Desember 2022 was ons by Fase 5 en Fase 6 beurtkrag. Maar gedurende hierdie tydperk het ons vir ‘n aansienlike hoeveelheid dae nie beurtkrag gehad nie,” het Ramokgopa gesê.
Maar die vergelyking het min te doen met die prestasie van Eskom-personeel, want drie eenhede by Kusile-kragstasie was in Desember 2022 buite werking.
Elke eenheid produseer 800MW en saam is dit verantwoordelik vir 2.5 fases van beurtkrag.
Hierdie eenhede was gedurende die 2023-feesseisoen weer in diens. Ten spyte hiervan het beurtkrag op 2 Januarie teruggekeer en is Fase 2-beurtkrag Dinsdagaand ingestel.
Bheki Nxumalo, uitvoerende hoof van Eskom, het gesê prestasieverslae word versoen en die aansporings sal vanaf einde Januarie betaal word.
Die meevaller kom net maande nadat Eskom-personeel in Junie 2023 ‘n 7%-loonverhogingsooreenkoms met hul werkgewer beredder het.
Die salarisverhoging is deurgedruk al het Eskom sy grootste verlies ooit van R24 miljard aangemeld.
Ramokgopa het die bonusse belowe tydens ‘n besoek aan Mpumalanga se Arnot-kragstasie, waar die maatskappy teen net 48% van sy kapasiteit werksaam was.
“Gaan voort met die goeie werk. Hoe beter die prestasie, hoe beter die aansporing wat julle aan jul sakke sal voel.
“Sodra ons die soort vordering en energieverbetering ontvang wat ons wil hê, sal julle sien dat jul gesinne gelukkig sal wees en julle ‘n beter Kersfees gaan geniet,” het hy gesê.
Op die foto hierbo: Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit.
Bron: X