Nadal onttrek van Australiese Ope

Rafa

Deur Razeen Gutta

Die geskiedkundige 15-dag Australiese Ope skop Sondag af, maar sonder Rafael Nadal, wat ná een jaar langs die kantlyn nog ‘n terugslag met ‘n besering opgedoen het.

Nadal se hoogs verwagte terugkeer is gestuit ná ‘n “mikro skeur op ‘n spier” ‘n week nadat hy by die Brisbane International sy verskyning gemaak het.

Twee oorwinnings in Brisbane is gevolg deur ‘n mediese pouse in sy kwarteindstryd teen Jordan Thompson nadat hy pyn in sy linkerbobeen gevoel het.

“Tydens my laaste wedstryd in Brisbane het ek ‘n klein probleem met ‘n spier gehad wat my, soos julle weet, bekommerd gemaak het,” het die 37-jarige op X gesê.

“Toe ek in Melbourne gekom het, het ek die kans gehad om ‘n MRI te doen. Ek het ‘n mikroskeur op ‘n spier – nie in dieselfde deel waar ek die besering gehad het nie, en dit is goeie nuus.

“Op die oomblik is ek nie gereed om teen die maksimum vlak van vyf-setwedstryde mee te ding nie. Ek vlieg terug Spanje toe om my dokter te sien, behandeling te kry en te rus.”

Die 22-malige Grand Slam-kampioen het al menige besering in sy rekordbrekende loopbaan opgedoen en nou, een jaar na sy vorige Australiese Ope, sal die volgende toernooi te vinnig begin vir sy terugkeer.

Vir die eerste keer ooit sal die Australiese Ope op ‘n Sondag, 14 Januarie, afskop in plaas van ‘n Maandag, nadat data getoon het dat wedstryde die afgelope jare langer duur.

Die vroeë begin beteken dat die kompetisie oor 15 dae sal strek, met wedstryde wat laataand eindig tot ‘n minimum beperk om beide spelers en ondersteuners te baat.

Op die foto hierbo: Rafael Nadal.

Bron: @rafaelnadal