Vroeë verkiesing is ANC se beste kans vir sukses

ANC supporters

Deur Zukile Majova

President Cyril Ramaphosa kan die ANC red van welverdiende opstoppers by die stembus deur ‘n vroeë verkiesingsdatum aan te kondig.

Nuwe partye met geloofwaardige stigtingswaardes en gelei deur ongelooflike mense, soos die bankier Roger Jardine se Change Starts Now, kan soveel as 2.5% van die stemme opneem as hulle ‘n langer aanlooptydperk kry om strukture op te rig en veldtogte te voer.

’n Moontlike 5%-party is Jacob Zuma se nuwe uMkhonto Wesizwe (MK), wie se propagandamasjinerie beweer dat hy meer as vier miljoen ondersteuners geregistreer het.

Dit het geen takke, en geen streeksgesag, provinsiale of verkose nasionale uitvoerende gesag nie. Om sulke partye ‘n ekstra drie maande te gee, kan die ANC duur te staan kom.

Ramaphosa het 90 dae om ‘n verkiesing vas te stel ná die einde van die ampstermyn van huidige nasionale en provinsiale regerings.

Die huidige ampstermyn vir hierdie administrasie eindig op 18 Mei 2024.

Die Grondwet bepaal dat die land binne 90 dae ‘n verkiesing moet hê, wat beteken dat die verkiesingsdatum so laat as middel Augustus 2024 kan wees.

Om ‘n verkiesing in Mei te hou, beteken dat die regerende party die euforie van die 27 April Vryheidsdagvieringe kan gebruik en ‘n paar weke later onmiddellik na die stembus kan gaan.

So ‘n datum sou ook val net voor die wintermaande se verhoogde elektrisiteitsaanvraag.

Uiterste beurtkrag op die vooraand van ‘n verkiesing kan 10% van die stemme uitwis, en dit is meer as genoeg vir die ANC om beide Gauteng en KwaZulu-Natal aan koalisieregerings af te staan.

Zuma is reeds aan’t toer en vertel vir potensiële kiesers dat hy gedurende sy ampstermyn beurtkrag beëindig het en die kleinhandelprys van brandstof op bekostigbare vlakke gehou het.

Hy sal nie waag om te praat oor die nege vermorste jare, staatskaping en hoe sy gabbas, die Guptas, uitvoerende magte gekaap en ministers aangestel en afgedank het terwyl Zuma voorgegee het dat hy die land bestuur nie.

Die ANC is kwesbaar en het in elke verkiesing stemme verloor. Die party het 12.19% van sy kiesers verloor tussen 2004, toe hy 69.69% van die stemme gekry het, en 2019, toe hy net 57.50% kon inpalm.