Mosimane verdedig Spaanse sokkerbaas se skanddaad

Janine van Wyk

Deur Michael Madyira

Pitso Mosimane het die nie-konsensuele soen deur die voormalige Spaanse FA-baas, Luis Rubiales, op die lippe van sokkerspeler Jenni Hermoso as ‘n “soen van oorwinning” beskryf.

Voormalige Banyana Banyana-kaptein Janine van Wyk het ook vir Rubiales verdedig, wat nou sokker vaarwel moes roep ná die galbraak oor die hoogs-gepubliseerde voorval.

Rubiales het nuus gemaak toe hy sonder haar toestemming ‘n soen op die voorspeler Hermoso se lippe geplant het tydens die oorhandiging van medaljes nadat Spanje die 2023 Fifa-wêreldbeker vir vroue gewen het.

Die voorval het gelei tot wêreldwye oproepe vir Rubiales om uit sy rol as Spaanse FA-baas te tree. Aanvanklik het hy geweier, maar ‘n boikot deur die meeste van die Spaanse vrouespan om vir die nasionale span te speel totdat hy vertrek, was suksesvol.

Maar die voormalige FA-baas het ‘n paar simpatiseerders in Suid-Afrika.

“Ek sien niks verkeerd met [Rubiales wat Hermoso soen] nie,” het Afrika se mees bekroonde sokkerspeler Van Wyk op Soccer Africa gesê.

“Dit is iets wat in ‘n oomblik gebeur het. Die span het die Wêreldbeker gewen en almal het feesgevier.

“Ek dink nie daar was sinistêre motiewe daar nie. Dit het net in ‘n oomblik gebeur en dit was dalk buite verhouding opgeblaas.”

Rubiales, ‘n voormalige UEFA-visepresident, is nou in die kookwater vir seksuele aanranding, maar Mosimane beskou die voorval nie as ‘n daad van seksisme nie.

“Dit was die soen van oorwinning,” het Mosimane gesê.

“Ek dink nie sy bedoelings was sleg nie. Hulle het fees gevier en dit het net gebeur.”

Hermoso getuig nou in ‘n Spaanse hof terwyl Rubiales vir seksuele aanranding ondersoek word.

Die aanvaller hou vol die soen was nie konsensueel nie, en sê sy is gevolglik “kwesbaar en ‘n slagoffer van aggressie”.

Alexia Putellas, die huidige Beste FIFA-vrouespeler en Hermoso se spanmaat, is as getuie in die verhoor opgeroep.

Putellas, wat ook ‘n Ballon D’or-wenner is, was uitgesproke in haar ondersteuning van Hermoso en in haar veroordeling van Rubiales.

“Wat ons kollega Jenni deurgemaak het, kan nie geduld word nie,” het sy in September gesê.

“Sokker is ‘n weerspieëling van ons samelewing en ons wou nie ‘n presedent skep deur ‘n situasie soos hierdie opsy te skuif nie.”

Op die foto hierbo: Voormalige Banyana Banyana-kaptein Janine van Wyk.

Bron: Fifa