Wreed vermoor, toe opgekap en in vrieskas gestop

Busisiwe Mthethwa

Deur Buziwe Nocuze

Terwyl die meeste mense die nuwe jaar se aanvangs geniet, rou die Mthethwa-gesin oor die gru-dood van Busisiwe Mthethwa, 56, wat verwurg en in stukke gekap is.

Haar liggaamsdele is in ‘n vrieskas gestop.

Akhona Sirhamza, ‘n familielid, het gesê hulle het die nuus van Mthethwa se huurders verneem.

“Ons het Saterdag omstreeks 7nm ‘n oproep ontvang nadat daar gesien is hoe haar kêrel haar huis se besittings verkoop,” het Akhona gesê.

Hulle het na haar huis gehaas, maar toe hulle daar aankom was die 35-jarige kêrel nie daar nie.

“Ons het na die polisiestasie gegaan om te vra dat hulle ons terug na haar huis vergesel en die diefwering afbreek sodat ons toegang kan kry.”

Toe hulle saam met die SAPD-lede aanland het die kêrel ook opgedaag met ‘n plastieksak vol hoendervleis.

“Hy het vir ons gesê dat Busisiwe in Blackheath was. Hy het ons gevra om weg te gaan sodat hy sy hoender in vrede kan gaarmaak,” het Akhona gesê.

Hulle het daarop aangedring om die vrieskas na te gaan voor hulle vertrek.

“Ons het geweet hy lieg, want die huurders het vir ons gesê sy is in die rondte. Die vrieskas is oopgemaak en haar liggaamsdele was daar binne.”

Die egpaar het drie jaar lank uitgegaan. Die verdagte het haar glo mishandel, en net voor sy vermoor is, was sy gereed om hom te verlaat, het Akhona gesê.

“Ons vermoed haar ‘Ben 10’ kêrel wou nie uitgegooi word nie. Hy kon dit nie aanvaar nie, want die slagoffer het alles vir hom gedoen.”

Die verdagte, wat in hegtenis geneem is, kom van Zimbabwe af en die familie het gesê hulle vermoed dat, indien hy borgtog kry, hy sal teruggaan Zimbabwe toe en ‘n normale lewe hervat. “Hy moet in die tronk vrot,” het Akhona gesê.

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Sersant Wesley Twigg sê ‘n man is in verband met die moord in hegtenis geneem en sal in die Athlone-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.

“Samora Machel SAPD ondersoek ‘n moordsaak nadat die liggaam van ‘n 56-jarige vrou in ‘n vrieskas gevind is. Die omstandighede rondom die voorval is onderhewig aan ‘n polisie-ondersoek,” aldus Twigg.

Op die foto hierbo: Busisiwe Mthethwa van Samora Machel in Kaapstad is vermoor.

Bron: Verskaf