Trans Agulhas-jaers wys hul staal in gure weer

Klou vas! Trans Agulhas

Deur Esther de Villiers

Organiseerders van die 35ste Trans Agulhas Challenge (TAC), wat jaarliks ​​van Plettenbergbaai tot by die Strand van 28 tot 31 Desember aangebied word, kon nie voorsien tot watter mate stormweer langs die Suid-Kaapse kus met hul planne sou inmeng nie.

Vanaf die 8vm wegspring verlede Donderdag by Plet se Hobie-strand, het groot deinings en dryfwinde roeteveranderings en innoverende oplossings genoodsaak om renjaers se veiligheid te verseker.

Trouens, kort ná die voltooiing van die eerste been na Nature’s Valley het toestande te gevaarlik geword om die res van die eerste skof na Mosselbaai in yslike deinings te probeer navigeer.

Bemanning en bote het per pad gereis om by Mosselbaai se Santos-strand weer die vloot te water te laat, en vandaar die vereiste kilometers vir Dag 1 bereik deur vyf rondtes na Kleinbrakstrand en terug te voltooi. Dit was die eerste van verskeie roeteveranderings oor die volgende drie dae.

Die wedren, geborg deur Six Gun Grill en aangedryf deur Ikoniese Mosselbaai, beslaan 700km en ses skofte, met oornagstoppe in Mosselbaai, Stilbaai en Struisbaai, voordat dit by die Strand in Valsbaai eindig.

TAC 2023 moes egter sy wenstreep na Struisbaai verskuif waar daar op 31 Desember ‘n uitgebreide nuwe 80km roete uitgebaan is om die volle wedloopafstand te kon voltooi.

“Dit het ons herinner dat die weer propvol uitdagings is,” het organiseerder Stefan Lindeque gesê, en bygevoeg dat vanjaar se wenners respek verdien van bootvaarders wêreldwyd – want hulle kon kersvashou, kom wat wil.

Die Safam-span van Eben de Bod en Gerhard Fernhout het die algehele titel by vanjaar se Trans Agulhas Challenge verower deur in die vinnigste tyd (ses uur 24 min en vier sekondes) oor vier dae te eindig, terwyl hulle ook die Gewysigde Klas-kategorie ingepalm het. .

Wenners in die ander twee klasse was Boot Six Gun Grill 41 met David Barnet en Harry Erasmus (Pro Stock-klas), en Boot Rusgenot Transport S1 met Dylan Bamberger en Carla Engelbreght aan die stuur (Stock-klas).

De Bod, afkomstig van Robertson in die Wes-Kaap, spog nou met ‘n vierde agtereenvolgende TAC-oorwinning. Hy het in 2023 vir die 11de keer deelgeneem.

Op die foto hierbo: Daar is gejaag dat die skuim spat in rowwe waters tydens die pas-afgelope Trans Agulhas Challenge.

Bron: TAC/Facebook