Pous gee sy seën aan gay paartjies

Die pous

Pous Franciskus het die groen lig gegee vir paartjies van dieselfde geslag om geseën te word.

Die Pous se span sê dus “ja” vir die seëning van verliefdes in “onreëlmatige situasies” – dit sluit paartjies van dieselfde geslag in.

“Mens moenie die kerk se nabyheid aan mense voorkom of verbied in elke situasie waarin hulle God se hulp kan soek deur ‘n eenvoudige seëning nie,” het die Vatikaan gesê.

Maar die dokument, direk vanaf die Vatikaan se geloofdepartement, verander nie die kerk se standpunt oor selfdegeslaghuwelike nie. Dit bly totaal ontoelaatbaar vir hulle.

Hulle hou by die ou reël: Die huwelik is vir ‘n man en ‘n vrou, kinders en al. Dus, geen seëninge tydens enigiets wat soos ‘n troue lyk nie.

Die Amerikaanse Jesuïet priester James Martin, ‘n groot ondersteuner van die LGBTQ-gemeenskap, noem dit ‘n “groot stap vorentoe”.

Sommige konserwatiewe Katolieke, veral in die VSA, is nie daarvoor te vinde nie. Hulle is heeltemal gekant teen die seën van selfdegeslag paartjies. Tog gee sommige priesters in lande soos België en Duitsland hul seën, selfs in die kerk.

Pous Franciskus, wat homself daarvoor beywer het om die Kerk meer verwelkomend te maak, is beroemd vir sy 2013 uitspraak: “As iemand gay is en na die Here soek en ‘n goeie wil het, wie is ek dan om hom te oordeel?”

Die Vatikaan is baie versigtig om enige verwarring met troues te vermy. Hierdie seëninge is meer subtiel – dink altaarbesoeke, geselsies met priesters of groepsgebede.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Pous Franciskus

Bron: X