Die verdagte in die moord op die Gugulethu Gemeenskapspolisiëringsforum se adjunkvoorsitter, Lulama ‘Guffy’ Dinginto, is in hegtenis geneem toe hy van die Oos-Kaap af teruggekeer het.
Dinginto is in die vroeë oggendure van Sondag 10 Desember in haar huis in Gugulethu, Kaapstad, koelbloedig vermoor. Sy is vyf keer geskiet.
Oos-Kaapse SAPD woordvoerder Kaptein Marius McCarthy het gesê die verdagte is op Sondag 17 Desember – ‘n week later – in Graaff Reinet in hegtenis geneem terwyl hy per bus op pad was na die Wes-Kaap.
“Daar word beweer dat op die genoemde datum inligting van die Wes-Kaap ontvang is dat die verdagte Gqeberha verlaat het en op ‘n bus was,” het McCarthy gesê.
Lede van die Graaff Reinet Operasionele Bevelsentrum het gewag dat die bus hul dorp binnekom en omstreeks 9nm is die bus gestop en deursoek.
“Die verdagte is geïdentifiseer en gearresteer.”
McCarthy het gesê die verdagte het op die lasbrief van inhegtenisneming in die hof verskyn en is intussen terug na Kaapstad verplaas vir die moordsaak om sy gang te gaan.
Gugulethu GPF-lede het die nuus verwelkom, met voorsitter Ntandazo Ngcingca wat gesê het dat hulle nuuskierig is om te weet wat verkeerd geloop het en hoekom hul adjunkvoorsitter vermoor is.
“Almal is bly dat hy in hegtenis geneem is. Nou wil ons weet hoekom hy iemand vermoor het wat haar lewe daaraan gewy het om seker te maak dat ons township veilig is,” het Ngcingca gesê.
‘n Inwoner wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê hulle het die slagoffer ‘Vrees Fokk*l’ genoem
“Sy was een vreeslike dapper mens; sy was vir niemand bang nie,” het die inwoner gesê.
Voor die verdagte se inhegtenisneming het die Wes-Kaapse SAPD ‘n kontantbeloning van R50,000 aangebied vir inligting wat sou lei tot die arrestasie van die verdagte verantwoordelik vir Dinginto se dood.
Geskryf deur personeelverslaggewer
Op die foto hierbo: Gugulethu Gemeenskapspolisiëringsforum se ondervoorsitter, Lulama ‘Guffy’ Dinginto
Bron: Verskaf