Deur Buziwe Nocuze
Die mense van Guguleth in Kaapstad het by die plaaslike sportkompleks bymekaargekom om die lewe van die vermoorde gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se adjunkvoorsitter, Lulama ‘Guffy’ Dinginto, te vier.
Dinginto is verlede Sondag in haar huis vermoor. Sy is vyf keer in die kop geskiet.
Onder die roubeklaers was die inkomende voorsitter van die Menseregtekommissie, Chris Nissen. Hy het gesê GPF-lede moet te alle tye beskerm word.
“Hulle woon in gebiede waar hulle kwesbaar is vir misdadigers, en hulle werk saam met die polisie om die gemeenskap se vertroue in die polisie te versterk,” het Nissen gesê.
Hy het gesê die gemeenskap het ‘n verantwoordelikheid om GPF-lede te beskerm omdat hulle bekend is met dwelmhandelaars, rowers, en mense wat infrastruktuur vernietig.
“Gemeenskapslede moet uitpraat; hulle moet ophou stilbly en kla wanneer hulle weet wie die mense is wat probleme in die gemeenskap veroorsaak.”
Hy het Dinginto as baie dapper en sterk beskryf.
Wyksraadslid Bongani Ngcombolo het gesê Dinginto se moord het almal diep geraak.
“Om in haar in haar huis te teiken was ‘n teken van disrespek. Ek glo sy is vermoor omdat sy eerlik was, vir die waarheid opgestaan het en die gemeenskap te alle tye wou beveilig,” het Ngcombolo gesê.
Hy het gesê haar moord was veronderstel om ‘n dreigement aan gemeenskapsaktiviste te stuur.
“Sy het misdaad beveg, en sommige mense het nie daarvan gehou nie. Sy was ‘n uitgesproke persoon – in vergaderings sou ons meningsverskille hê, maar wanneer ons moes uitgaan het sy nie daaroor gepraat nie.”
Op die foto hierbo: Gugulethu het ‘n gedenkdiens gehou om die lewe van die vermoorde gemeenskapspolisiëringsforum se adjunkvoorsitter te huldig
Bron: Buziwe Nocuze