Polisie beloof beloning vir inligting oor Guffy se moord

Find Lungile Anthony Madolo

Die Wes-Kaapse polisie bied ‘n beloning van R50,000 aan vir inligting wat sal lei tot die arrestasie van verdagtes wat verantwoordelik is vir die moord op die Gugulethu Gemeenskapspolisiëringsforum se ondervoorsitter, Lulama ‘Guffy’ Dinginto.

SAPD-woordvoerder Adjudant-offisier Joseph Swartbooi sê Lungile Anthony Madolo, 35, ook bekend as Fire, is geïdentifiseer as “persoon van belang”. Die speurders wil hom in verband met die voorval ondervra.

Madolo is ‘n bekende misdadiger in die gebied.

Dinginto is Sondag in die vroeë oggendure deur onbekende verdagtes vyf keer in die kop geskiet nadat hulle die diefwering gebreek en die deur afgeskop het.

Haar lewelose liggaam is in die badkamer gevind – haar familie glo dat sy daarheen gehardloop het om weg te kruip.

Dinginto is beskryf as ‘n dapper maar nederige persoon wat lief was vir haar gemeenskap.

Nyanga Gemeenskapspolisiëringsforum sekretaris Dumsani Qwabe het gesê hulle het iemand verloor wat toegewyd was aan haar werk en aan haar gemeenskap.

“Haar wens was om Gugulethu ‘n beter en veiliger plek te maak. Ongelukkig is sy vermoor – na bewering deur iemand wat baie sake [teen hom] het. Ons wens is dat die verdagtes gearresteer en gevonnis word vir die kortknip van Dinginto se lewe,” het Qwabe gesê.

Qwabe het gesê hulle sal nie ophou om misdaad in hul gemeenskap te beveg net omdat een van hulle vermoor is nie.

“Ons sal voortgaan om misdaad in ons gemeenskappe te bekamp. Ons kan nie nou terugdeins nie,” het Qwabe gesê.

‘n Inwoner in Gugulethu vrees dat die moord op die GPF-lid paniek sal veroorsaak, en vermoed baie van die patrolleerders gaan die handdoek ingooi.

“Ek het gehoor hoe een van die patrollielede sê Dinginto se moord is ‘n boodskap om mooi te dink aan enigiemand wat misdaad in Gugulethu beveg. Misdadigers laat ons weet dat hulle met enigiemand wat misdaad bekamp sal afreken, omdat hulle in hul kriminele aktiwiteite versteur word,” het die inwoner gesê.

Deur personeelverslaggewer

Op die foto hierbo: Wes-Kaapse polisie het hierdie foto voorsien van Lungile Anthony Madolo, wat deur speurders vir ondervraging gesoek word

Bron: Verskaf