Deur Buziwe Nocuze
‘n 54-Jarige man van Parkwood in Kaapstad is dood nadat hy deur sy dwelmverslaafde stiefseun met ‘n baksteen aangeval is.
Die verdagte se ma het gesê die moeilikheid het begin toe sy haar 30-jarige seun gaan wakker maak het.
“My seun is so lui. Hy sal sommer die hele dag lank slaap. Ek het hom omstreeks 3-uur gaan wakker maak sodat ek die kamer kon skoonmaak, maar hy het kwaad geword en my uitgejaag,” het die ma gesê.
Die verdagte het na bewering op sy ma gevloek en die stiefpa het vir sy vrou in die bresse getree.
“My seun het gevra of ek wil hê hy moet met my slaap. Ek was geskok, en so was my man en my ander seun. Hulle het vir hom gesê hy kan nie so met my praat nie,” het sy gesê.
Toe het die seun buitentoe gegaan, ‘n baksteen opgetel en teruggekom.
“Hy was briesend. Ek het gedink hy gaan my aanval maar hy het verby my gestap en my man teen die kop geslaan. My man het geval en ek het dadelik probeer om hom te help. Toe sien ek net bloed. Hy is op slag dood,” het sy gesê.
Sy het haar gade beskryf as ‘n goeie man wat vir haar kinders gesorg het.
Sy het gesê sy bid dat haar seun gestraf sal word vir wat hy gedoen het.
“Ons is al 30 jaar saam. Vir hom om vermoor te word deur iemand vir wie hy lief was en vir wie hy gesorg het, is skokkend. Ek is kwaad. My man was goed vir hulle en het hulle soos sy eie kinders behandel,” het sy gesê.
“Ek wil hom nie sien nie – ek sal nie eers hof toe gaan nie. Die belangrikste ding is om te treur oor my man, wat gesterf het teryl hy my teen my seun verdedig het.”
Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Kaptein Frederick van Wyk sê die Grassy Park polisie het ‘n moordsaak aanhangig gemaak ná ‘n voorval waar ‘n man noodlottig beseer is.
“Die verdagte is gearresteer en sal in die hof verskyn sodra hy aangekla word,” het Van Wyk gesê.
Op die foto hierbo: Die vrou wie se man deur haar seun vermoor is
Bron: Buziwe Nocuze