Deur Zukile Majova
Die Donderdagaand van 5 Desember 2013 sal vir altyd in my geheue ingeëts bly.
Nadat ek geswoeg het met die redigering van teks en klankgrepe by die YFM-nuuskamer, waar ek ses jaar as nuushoof geniet het, het ek vir ‘n maandelikse aandete saam met my verslaggewers en mediakollegas uitgegaan.
Ek het daardie aand in ‘n pragtige restaurant in Forest Town, Johannesburg, ‘n berg varkribbetjies en skyfies bestel. Soos gewoonlik was my eerste bestelling ‘n stewige skeut whisky, gevolg deur nog een net om die ys te breek.
Daar was iets omtrent daardie week.
Ons het Nelson Mandela se doodsberig voorberei en veilig gestoor saam met ‘n aantal stories wat ‘n uitsaaier vir ten minste een of twee ure as inhoud sou kon gebruik indien Madiba in die middel van die nag sou sterf.
Plaaslike en internasionale mediahuise het weke lank buite sy hospitaal gekamp in die hoop om die verhaal van sy dood te breek. Madiba het later na sy huis in Houghton teruggekeer en die mediabelangstelling het, ondanks sy beter gesondheid, glad nie bedaar nie.
Ek het geweier om my verslaggewers soontoe te stuur. Ek het geglo dit is belangriker om Madiba se dood met waardigheid aan te meld en nie as ‘n brekende nuusbrok nie.
Buitendien was ek arrogant oortuig dat die storie in my skoot sou beland die oomblik wat dit breek.
En terwyl ons besig was om ons nageregte klaar te maak, het presies dit gebeur. Ek het vir my span radiojoernaliste, aanbieders en vervaardigers gesê dat die “arend geland het”.
Die wêreldwye toonbeeld van vrede, geregtigheid en menseregte was nie meer met ons nie. En so, na ‘n skof van 12 uur, was dit terug na die ateljees in Hyde Park vir nog ‘n 16-uur skof.
Terwyl ons teruggery het werk toe, het ons almal ons bronne gebel om die nuus te bevestig. Jy kon dit nie waag om die sneller voortydig te trek nie.
Die skryf van die brekende nuusberig was eenvoudig genoeg. Maar wat gevolg het was ‘n helse stormloop van adrenalien, van uitputting en opgewondenheid wat ‘n hoogtepunt bereik het met sy begrafnis by sy geliefde dorpie Qunu in Mthatha.
Ek het weke lank sonder veel slaap moes klaarkom.
Ek het geweet ons staan reg in die middel van geskiedenis toe Amerikaanse president Barack Obama gesê het Madiba “behoort nie meer aan ons nie – hy behoort aan die eeue”.
Waar was jy toe Nelson Mandela gesterf het?
Almal in Amerika onthou waar hulle op 11 September was en daarom moet almal in Suid-Afrika die eerste keer onthou wat hulle verneem het: Nelson Mandela is dood.
Dit is 10 jaar en ons sal nooit vergeet nie.
Aah Dalibhunga!
Op die foto hierbo: Nelson Mandela: Waar was jy?