Aphiwe vermoor oor sy ligte vel

Aah, Stemela

Deur Buziwe Nocuze

Die Stemela-gesin rou oor die dood van hul seun, wat Sondag in Gugulethu doodgeskiet is omdat die moordenaar volgens inwoners gedink het hy is Bruin.

Inwoners sê rassespanning heers in die township Gugulethu, waar Aphiwe Stemela, 25, met sy lewe geboet het.

Dolly Stemela, die oorledene se ma, het gesê haar seun was besig om saam met sy broer en ‘n ander passasier die gebied in ‘n motor te verlaat.

Hy is deur ‘n verdagte genader wat vir hom gesê het hy mag nie ‘n spesifieke pad gebruik nie. Die verdagte het na bewering begin skiet terwyl Aphiwe probeer wegkom het.

“Terwyl hy agteruitgery het, het die verdagte hom glo aangesê om nie te ry of na ‘n sekere area te gaan nie. Maar toe pleeg Aphiwe die sonde om te vra ‘hoekom nie?’,” het Dolly gesê.

Die verdagte het volgens getuies losgebrand. “My seun het beheer oor die motor verloor en dit het omgeslaan. My ander seun en hul passasier het daarin geslaag om te ontsnap en na familielede gehardloop om te rapporteer wat gebeur het. Ongelukkig is Aphiwe op die toneel dood.”

Sy glo hy is vermoor omdat sy vel so lig was.

“Ek het vroeër stories gehoor oor Bruin mense wat in Gugulethu beroof is. Ek dink die verdagte het gedink dat my seun ‘n Kleurling is. Dit is die enigste ding waaraan ek kan dink wat hom sy lewe gekos het. Hy was ’n goeie mens en hy sou niemand leed aandoen nie,” het Dolly gesê.

Dolly het gesê dit maak seer dat sy in Gugulethu gebore is – al woon hulle nou in Edgemead.

“Hoe verduidelik ek aan my kinders dat hulle nie mag gaan na die plek waar ek grootgeword het nie as gevolg van hul kleur?” sy het gevra.

“Ons samelewing is siek. My seun het dit nie verdien nie. Hy het niemand gepla nie, hy wou net weet hoekom hy aangesê is om nie na op ‘n sekere pad te ry nie.”

‘n Inwoner wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gesê dié soort ding moet endkry.

“Selfs al was hy ‘n Bruin mens, was daar geen rede om hom te vermoor nie. Dit beteken daar is mense wat hul lewens gaan verloor omdat hulle te lig van vel is. Ons moet mekaar liefhê en respekteer, ongeag ras,” het die inwoner gesê.

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Kaptein FC van Wyk het gesê die omstandighede rondom die dood van ‘n man in Gugulethu word ondersoek.

“SAPD-lede het gereageer op ‘n klagte in Gugulethu waar hulle ‘n omgeslaande voertuig gevind het. Daar word vermoed dat die slagoffer geskiet is en beheer verloor het agter die stuur,” het Van Wyk gesê.

Hy het gesê die Gugulethu polisie het ‘n saak van moord aanhangig gemaak. Die motief is tans onbekend en ondersoeke duur voort.

Op die foto hierbo: Aphiwe Stemela is na bewering in Gugulethu doodgeskiet omdat hy as Kleurling beskou is

Bron: Verskaf