Deur Lucky Vince Maree
Toe die vlag val vir die laaste MotoGP, kon beide die Italianer Francesco ‘Pecco’ Bagnaia en Spanjaard Jorge Martin steeds die MotoGP 2023 wêreldkampioenskap wen – maar vyf rondtes later was dit alles behalwe verby.
Tydens die tweede rondte het Bagnaia en Martin, wat om die voortou geveg het, mekaar geraak toe Martin vir Bagnaia ingehaal het. Martin het tweede beste daarvan afgekom en tot omtrent sewende toe teruggesak nadat hy wyd geloop en Bagnaia die voortou geneem het.
Martin, nou met al die haas van ‘n perd wat stal toe hol, het begin om vir Bagnaia te vang, maar dit was nie vir hom beskore nie.
Op rondte vyf het Martin sy Ducati laat val en sy wedrenwen vaarwel geroep – en die kampioenskap was dus beslis.
Intussen het die Suid-Afrikaner Brad Binder hom in die Nr. 1 posisie bevind met sy spanmaat Jack Miller tweede.
Dit het begin lyk soos ‘n een-twee op die podium vir KTM, maar toe loop dinge skeef.
Beide Binder en Miller het foute gemaak, en Bagnaia was weer eens voor.
Hy het die voortou behou, sy derde loopbaankampioenskap gewen, en een van slegs ‘n handjievol ryers geword wat al agtereenvolgende wêreldkampioenskappe gewen het.
Valencia MotoGP Sondag 26 November 2023
1. Francesco Bagnaia (Ducati)
2. Fabio di Giannantonio (Ducati)
3. Johann Zarco (Ducati)
4. Brad Binder (KTM)
Op die foto hierbo: Wêreldkampioen Francesco ‘Pecco’ Bagnaia
Bron: MotoGP Mac