‘Ma van sy kinders’ vermoor na sy hom verneuk

Samora Machel polisie

Deur Buziwe Nocuze

‘n Vrou het haar lewe verloor nadat sy glo ontrou was.

Die bakleiery het begin toe ‘n man sy meisie – die ma van sy kinders – in die bed gevang het saam met ‘n ander man. Inwoner Lungelwa Siko het gesê die verdagte het omstreeks 10nm by die shack aangekom.

Verontwaardig en verteer deur jaloesie, het hy sy meisie gekonfronteer.

“Hy het geskree en vir haar gevra hoekom sy hom sou verneuk. Hy het gevra hoekom sy nie net dinge tussen hulle beëindig het in plaas daarvan om met ‘n ander man te slaap nie,” het Siko gesê.

Die verdagte het toe die slagoffer teruggeneem na hul shack in Eyadini, maar wat daarna gebeur het, kon niemand voorsien nie.

“Ons het nooit gedink hy gaan haar doodslaan nie. Ons was die oggend verbaas toe die verdagte saam met die polisie daar aankom om vir hulle die slagoffer se lyk te wys. Sy was kaal in die bed.”

Die verdagte het glo die vriendin ondervra oor hoeveel keer sy seks met die ander man gehad het.

Daar is ook gerugte dat die verdagte probeer het om sy eie lewe te neem, maar homself uiteindelik aan die Samora Machel polisie oorgegee het.

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder, Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, het gesê ‘n moorddossier is geopen na ‘n voorval wat die lewe van ‘n 40-jarige vrou geëis het.

“Uit voorlopige inligting blyk dit dat die 39-jarige verdagte hom aan die polisie oorgegee en beken het dat hy sy meisie vermoor het nadat hy haar saam met ‘n ander man in die bed betrap het,” het Pojie gesê.

Hy het gesê die verdagte het haar na bewering met ‘n ketting aangerand en later die oggend teruggeneem na hul huis. Toe hy wakker word, het hy gevind dat die vrou leweloos was.

“Die polisie het sy verslag opgevolg en hom op aanklag van moord aangehou. Hy sal binnekort in Athlone Landdroshof verskyn.”

Op die foto hierbo: ‘n Kaapstadse man het homself aan die polisie oorgegee nadat hy na bewering die ma van sy kinders vermoor het

Bron: Buziwe Nocuze