Babas uit Gaza se ‘doodsone’ gered

Babies going from Gaza to Egypt

Tientalle vroeggebore en siek babas het Maandag veilig in Egipte aangekom nadat hulle uit Gasa se oorloggeteisterde Al-Shifa Hospitaal ontruim is.

Egiptiese amptenare het bevestig dat 28 babas in die land behandeling ontvang, terwyl die vier moeders en ses verpleegsters wat hulle oor die grens vergesel het, by verskillende hospitale behandel word.

Vroeër die naweek moes 31 kwesbare babas uit Al-Shifa, Gaza se grootste hospitaal, ontruim word nadat die hospitaal se krag en hulpbronne opgeraak het ná ‘n klopjag op die kompleks deur die Israeliese Weermag (IDF).

Terwyl hulle nog in Al-Shifa was, het medici desperaat probeer om die babas aan die lewe te hou deur hulle langs mekaar op hospitaalbeddens te plaas nadat hul broeikaste se krag opgeraak het.

Verskeie het glo omgekom voordat hulle veilig uit die hospitaal geneem kon word.

Van die 31 wat ontruim is, het drie babas in ‘n ander hospitaal in Gaza gebly terwyl die res in ‘n konvooi ambulanse deur die Rafah-kruising na Egipte geneem is. Dit is steeds onduidelik of die babas wat agtergebly het by die ander sal aansluit.

Een van die ma’s wat Maandag saam met haar dogter in Egipte aangekom het, het aan Egiptiese staatsmedia gesê dit is “die beste plek op aarde om te wees”.

Lubna El-Seik het gesê na ‘n moeilike kraamproses is haar dogter op 28 September gebore.

“Ek was veronderstel om my dogter te gaan sien op 7 Oktober. Sy was aangewese op kunsmatige asemhaling. Ons is gevra om ons huis te verlaat, toe bombardeer hulle ons huis. So ek is na Al Shifa toe. Ons het nooit kon dink dat die hospitaal geteiken sou word en wat daardie kinders sou moes deurmaak nie,” het sy gesê.

Sondag het die VN Al-Sjifa as “doodsone” beskryf.

Toe die oorlog in Oktober uitgebreek het, het die hospitaal meer as 1,500 siek en gewonde pasiënte behandel, en meer as 20,000 mense op vlug van Israeliese lugaanvalle het daar geskuil.

Maar nadat die IDF die naweek beveel het dat die hospitaal ontruim word, bly net 291 ernstige siek pasiënte oor saam met 25 medici wat na hulle omsien.

Sowat 2,500 mense, van wie baie siek en beseer is, het Sondag uit die hospitaal na die suide van Gaza voetgeslaan.

Israeliese magte het eers die hospitaal omsingel nadat hulle beweer het dat Hamas dit as ‘n militêre hoofkwartier gebruik. Die IDF het Maandag beeldmateriaal vrygestel wat volgens hulle wys hoe twee gyselaars op 7 Oktober by die hospitaal ingelei word. Hulle het ook foto’s gepubliseer van ‘n tonnel onder die hospitaal wat volgens hulle deur Hamas-militante gebruik word.

Op die foto hierbo: Die ambulanse wat 28 vroeggebore en siek babas van Gaza na Egipte vervoer het

Bron: X