Deur Doreen Mokgolo
Masedisa Mojaki, die eerste Afrika vrou wat die titel van shihan (‘n kundige instrukteur van gevegskuns) verwerf het, oorkom nuwe hindernisse by die Ekurhuleni Skool vir Dowes in Katlehong.
In 2021 het sy die skool aangewys as haar verkose liefdadigheidsorganisasie. Met verloop van tyd het sy opgemerk dat, terwyl die studente in verskeie sportsoorte uitgeblink het, daar geen karateklasse beskikbaar was nie – ‘n sport waarby sy diep betrokke is sedert 1988, en waarin sy merkwaardige sukses behaal het.
Die titel shihan is aan haar toegeken tydens die 13de WKO Shinkyokushin Karate Seminaar wat van 11-18 Oktober in Japan gehou is, en waar sy haar vyfde swart gordel behaal het.
Mojaki het met Scrolla.Africa gepraat en gesê hoewel sy opgewonde was om die dowe leerders te onderrig, was sy ook angstig oor die uitdagings wat voorlê.
“Ek het verstaan dat dit ‘n moeilike taak gaan wees, aangesien ek toe nog besig was om gebaretaal te leer en in geen posisie was om daarin onderrig te gee nie.
“Karate is ‘n vokale sport en mens moet die Japannese instruksies en demonstrasies kan hoor. Daar was nog geen tekentaal ontwerp om vir die dowe gemeenskap voorsiening te maak nie.
“Dit het ook beteken dat leerders sou moes stop om die tekens te lees voordat hulle kon terugbaklei.”
Sy het saam met die leerders besluit om met gebare vir verskillende terme vorendag te kom om die lesse te help vergemaklik.
Die skool moes ook vier instrukteurs in plaas van twee gebruik om te verseker dat alle leerders duidelik kan sien hoe om die instruksies uit te voer.
Mojaki het gesê die enigste verskil met die lesse is die tyd wat in die gimnasium spandeer word. En hoewel die lesse langer neem as wanneer sy horende studente afrig, het sy gesê sy sal nooit die ervaring vir enigiets verruil nie.
“My droom is om my studente aan internasionale kompetisies te laat deelneem en om te sien hoe die sport by ander spesiale skole in die land bekendgestel word,” het sy gesê.
In 2016 het die leerders vir hul eerste gradering gegaan en het sedertdien aan verskeie kompetisies deelgeneem.
Op die foto hierbo: Afrika se eerste vroue shihan, Masedisa Mojaki, saam met van haar jong karateka
Bron: Verskaf