Deur Lucky Vince Pienaar
Saterdagaand het die Sharks nie net teen Zebre verloor nie – hulle het aan Zebre hul eerste oorwinning in 18 maande besorg. Noudat die eens magtige Sharks teen die swakste van swak spanne verloor het, maak dit hulle die swakste?
Om te kyk hoe Neil Powell en John Plumtree met ysige uitdrukkings in die afrigter se hokkie sit, is soos ‘n klap in die gesig vir liefhebbers van rugby in SA, om die minste te sê.
Tradisioneel begin die Suid-Afrikaanse spanne sleg in die Verenigde Rugbykampioenskappe, maar die stand van sake tans is gelyk aan die laagste van laagtepunte.
En dalk is die manne van Durban se vertoning aanduidend van ‘n flikkerende rooi lig vir provinsiale rugby regoor die land.
Die eens magtige Blitsbokke lê tans sewende op die internasionale sewesranglys ná hul aangehoue agteruitgang van een toernooi na die volgende.
Suid-Afrika was op die punt om goud by die Olimpiese Spele in 2020 te wen, maar die Blitsbokke het die spreekwoordelike bal met bottervingers laat val – en toe kon hulle selfs nie brons wen nie. Enige eerlike sewes-aanhanger het geweet dat die skrif toe reeds aan die muur was, maar die ergste moes nog kom.
Daar is nou ‘n wesenlike kans dat die Blitsbokke dalk nie eens vir die Olimpiese Spele in 2024 gaan kwalifiseer nie. Nadat hulle teen Kenia in die jongste kwalifiserende ronde in Afrika verloor het, het hulle nou een laaste kans om deur te druk Spele toe. Hulle moet in Junie ‘n “tweede-kans” toernooi in Monaco wen, en verloor is nie buite die kwessie nie!
Vrouerugby beteken bitter min vir SA Rugby. Nie die sewes of die 15-formaat van die spel is eens die moeite werd om oor te praat nie. Om te sien hoe die dapper Suid-Afrikaanse vroue vernietig word in elke sewestoernooi wat hulle aanpak, is ‘n verleentheid; om te sien hoe hulle geleidelik verswak, is hartverskeurend.
Maar jy’t nog tyd, Rassie Erasmus.
Jy het aan die wêreld en Suid-Afrika bewys dat jy werklik ‘n majifieke afrigter is – moontlik die beste in die spel se geskiedenis – deur rugbywêreldbekers te wen. Maar nou lê daar harde werk voor op tuisfront.
Ons hoop jou aankondiging dat jy as Springbok-afrigter gaan aanbly, is nie ‘n berekende manier om die breër verantwoordelikhede van direkteurskap te ontduik nie. Maar of jy nou direkteur van rugby of Springbok afrigter is, daar word bietjie Rassie-toorkuns benodig.
Wat staan jou te doen? Wel, niemand weet behalwe jy nie. Dis hoekom jy ‘n legende is. Fokus daardie briljante rugbybrein van jou op al die sport se dissiplines. Bewys weereens dat jy die beste is. Red ons nasionale spanne!
Jy het ons na goud in die Wêreldbeker gelei, so bewerk nou vir ons Olimpiese goud in die sewes.
Op provinsiale vlak is “Red die Haaie” nie ‘n desperate oproep van ‘n mariene bewaringsagentskap nie. Powell en Plumtree het bewys dat hulle geen antwoorde het nie. Help tog, Meneer die Direkteur.
Kry vrouerugby op die regte pad. Hulle hoef nie die slaansak van internasionale vrouerugby te wees nie.
Rassie, maak ‘n plan – jy weet jy kan!
Op die foto hierbo: Rassie Erasmus
Bron: SA Rugby