‘n Nuwe baadjie vir ‘uLwaluko’

Initiates in the E Cape

Deur Anita Dangazele

Tradisionele besnydenis in die Oos-Kaap kry dalk ‘n nuwe en moderne voorkoms.

Die Oos-Kaapse regering wil die gebruik van tradisionele besnydenis, “uLwaluko”, moderniseer in ‘n poging om die aantal sterftes en beserings te verminder.

Tydens ‘n tweedaagse tradisionele inisiasie-imbizo in Oos-Londen verlede week het Zolile Williams, LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, gesê hy wil tydelike klinieke en gesondheidsorgfasiliteite in die inisiasiekampe oprig, waar geïnisieerdes eerder deur dokters besny sal word as deur tradisionele chirurge bekend as “iingcibi”.

Williams het gesê dit sal die stigma verminder rondom geïnisieerdes, wat dikwels behandeling in hospitale benodig.

“Ons moet die moontlikheid bespreek om besnydenisprosedures te laat uitvoer deur opgeleide en professionele mediese dokters wat die ritueel ondergaan het. Dit sal in die berge en inisiasieskole in ‘n tradisionele omgewing gedoen word,” het hy gesê.

Meer as 10,000 geïnisieerdes is in die afgelope 15 jaar in hospitale opgeneem; meer as 900 is dood, terwyl 400 hul manlikheid verloor het.

“Mens kan verskoon word om te dink hierdie is oorlogstatistieke,” het Williams gesê

Williams het gesê hy is bewus daarvan dat sy idees hom mag laat kopstamp met sommige tradisionaliste.

“Ek weet die amaXhosa is baie konserwatief en daarom het meer as 900 geïnisieerdes gesterf terwyl meer as 400 ander penis-amputasies gehad het. Een dood is een te veel.

“As ons nie hierdie stryd wen nie, sal die nasionale regering dit tot ‘n nasionale ramp verklaar en dit toemaak. Dis nie die tradisie wat doodmaak nie, maar die praktisyns wat die heilige ritueel ‘n slegte naam gee,” hy gesê.

Baie sterftes word gekoppel aan dehidrasie en die wanbestuur van septiese wonde.

“Dit is ‘n reg, maar dit moet nie doodmaak of vermink nie – dit moet goeie karakter bou en bydra tot verantwoordelike volwassenheid, sosiale kohesie en nasiebou,” het Williams gesê.

“Geen kind mag in die bos sterf nie, want die praktyk is nie veronderstel om tot sterftes te lei nie.”

Die 2023-somer inisiasie het amptelik op Vrydag oopgemaak vir buiteskoolse jeugdiges, en begin op 17 November vir seuns wat nog op skool is.

Op die foto hierbo: ‘n Groep Xhosa geinisieerdes

Bron: Facebook