Gewonde Kind Geen Oorlewende Familie

Children are hit hardest by war

Die Verenigde Nasies het gewaarsku dat die Israel-Hamas oorlog “katastrofies” is vir Gaza se kinders.

Byna 4,000 kinders is sedert 7 Oktober dood in Israeliese lugaanvalle, en ‘n verdere 1,250 word vermis, vermoedelik dood of vasgevang onder geboue.

Behalwe die dooies, is duisende ander uit hul huise verdryf en het min of geen toegang tot kos of skoon water nie.

Dr Tanya Haj-Hassan, ‘n pediatriese intensiewesorg dokter wat verbonde is aan Médecins Sans Frontières, ook bekend as Dokters Sonder Grense, het aan CNN die verskriklike impak van oorlog op kinders se geestesgesondheid uitgelig. Sy vertel dat sy gehoor het van ‘n dogtertjie wat haarself in die pad van ‘n aankomende motor probeer gooi het.

“Toe sy gevra is hoekom, het [die kind] gesê: ‘Ek wil net doodgaan. Ek kan nie meer die vrees vir doodgaan hanteer nie.’”

Ontelbare ander is deur oorlog wees gelaat. CNN het berig dat medici die akroniem WCNSF (‘Wounded Child No Surviving Family’, dus ‘Gewonde Kind Geen Oorlewende Familie) gebruik om baie van die beseerde kinders wat na die hospitaal gebring is, te klassifiseer.

Al Jazeera het Sondag grusame beeldmateriaal gepubliseer van ‘n meisie wat vasgekeer is onder die puin van ‘n gebou wat deur ‘n missiel getref is.

“Kry my asseblief hier uit!” huil sy.

“Ons kom haal jou,” roep ‘n man, wat die kamera vashou terwyl hy probeer om van die puin ontslae te raak.

“Is daardie stuk hout bo-op jou?” vra hy in ‘n poging om haar op te spoor.

“Ek weet nie. Daar is ‘n groot muur wat my vasdruk. Ek kan nie.”

Abei van hulle probeer vertroosting in gebed vind. “Hoekom gebeur dit alles met ons?” vra die meisie.

Nog tyd verloop en die meisie kry dit reg om ‘n sigbaar beseerde arm te bevry. Die kamera flits na die doodstil voet van ‘n lyk langs haar.

Dit is onduidelik of die man haar kon bevry, en of sy by die geledere van die WCNSF gaan aansluit.

Op die foto hierbo: Kinders op straat in Gaza

Bron: X