Deur Buziwe Nocuze
Kaapse metropolisiebeamptes wat in die geweldgeteisterde gemeenskap van Manenberg patrolleer, het hulself in ‘n benarde situasie bevind nadat hulle afgereken het met ‘n verdagte wat op hulle losgebrand het.
Die voorval het kommer laat ontstaan oor die veiligheid van wetstoepassers in gemeenskappe wat deur bendegeweld geteister word.
Die konfrontasie het in Rio Grandestraat ontvou toe die beamptes – deel van die Stad se pogings om die Suid-Afrikaanse Polisiediens by te staan om groeiende bendegeweld te takel – geweerskote gehoor het en ‘n verdagte gesien het wat ‘n wapen afvuur.
JP Smith, LUR vir Veiligheid, het gesê beamptes het hom beveel om sy wapen te laat sak, maar hy het op hulle geskiet en toe beamptes teruggeskiet het, het die verdagte hom uit die voete gemaak.
“Die gewonde verdagte het kort daarna ineengestort en beamptes het onmiddellik mediese hulp ontbied, maar die 35-jarige man is kort daarna dood verklaar deur mediese personeel,” het Smith gesê.
Hulle het ‘n 9mm-pistool sonder reeksnommer ontdek, met ses rondtes ammunisie in die magasyn.
Bendegeweld vier hoogty in verskeie gemeenskappe, en Smith het die Stad se verbintenis om die geweld hok te slaan beklemtoon.
“Ons doen alles in ons vermoë om te help, insluitend die ontplooiing van bykomende operasionele hulpbronne en die gebruik van beskikbare tegnologie soos geweerskootopsporing, videomonitering, paneelbordkameras en liggaamskameras waar beskikbaar,” sê Smith.
“Dit is kommerwekkend dat, na die beamptes die verdagte in Manenberg buite aksie gestel het, hulle vyandigheid van sommige gemeenskapslede ervaar het. Dit kan nie wees dat die einste mense wat desperaat pleit vir bystand en ingryping, toepassingsdienste in hierdie situasie aanval nie.”
Voorsitter van die Manenberg Gemeenskapspolisiëringsforum Vernon Visagie het die behoefte aan eenheid en ondersteuning beklemtoon en gesê: “Dit is tot almal se voordeel om die polisie by te staan en seker te maak dat hulle hul werk kan doen sonder om vir hul lewens te vrees. Hulle is hier om misdaad te help bekamp en hou ons gebiede veilig vir almal,” het Visagie gesê.
Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder, Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, het gesê ‘n saak van poging tot moord en ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.
“Op hierdie oomblik is geen arrestasies in verband met die voorval gemaak nie,” het hy gesê.
Op die foto hierbo: Mannenberg wetstoepassers het aan die pen gery