Aardbewing: ‘Ons werk elke oomblik sedertdien’

Moroccan earthquake

Sedert ‘n verwoestende aardbewing Marokko Vrydagaand getref het, het internasionale hulpverleners, noodwerkers en burgerlikes skouer aan skouer gewerk om mense, wat steeds onder die puin vasgekeer is, te bevry.

Die Marokkaanse regering het tot dusver meer as 2,000 sterftes aangemeld na die land se ergste aardbewing in meer as ‘n eeu, en dié getal sal styg namate liggame oor die komende weke uit die puin onttrek word.

Duisende werk onvermoeid om lewendes steeds onder die puin vasgevang te bevry.

Sedert Sondag probeer reddingspanne om sommige afgeleë dorpies te bereik in die Hoë Atlasberge – die episentrum van die aardbewing.

Puin van verwoeste geboue en grondverskuiwings het paaie versper wat na sommige van die geraakte gebiede lei.

Terwyl hulle desperaat wag vir hulp om op te daag, gebruik dorpenaars hul kaal hande om die wedloop teen tyd te wen en hul geliefdes van die verwoesting te bevry.

BBC-verslaggewers het by die bergdorpie Moulay Brahim opgedaag voor die nooddienste daar aangeland het.

Met hul aankoms het hulle op ‘n groep mans afgekom wat saam gehuil het.

“Ons vriend is deur die puin vermorsel. Ons het hom vandag begrawe – hy was so jonk.”

‘n Ander man genaamd Mohamed het gesê dat hy een van ‘n handjievol mense was wat hulp aan andere kon verleen.

“Ons werk nog elke minuut vandat dit gebeur het. Onophoudelik sedertdien,” het hy gesê. “Daar is net sowat 10 mense wat hier saamwerk en ons probeer mense in die geboue vind. Dis ‘n desperate saak.”

Hulp het opgedaag in die vorm van die Red Crescent – ‘n internasionale humanitêre groep.

Hierdie afgeleë berggebiede het die ergste deurgeloop, maar 72km van die episentrum af lê ‘n groot deel van Marokko se grootste stad Marrakech ook in puin.

Duisende mense het Saterdagaand in die strate rondgestaan, bang dat hul wankelrige huise sou ineenstort as hulle terugkeer. Sommige was bang vir nog ‘n aardbewing nadat nog ‘n geringe skudding die stad Sondag getref het.

Die VN het gesê dat meer as 300,000 mense deur die ramp geraak is. Turkye was een van die eerste lande wat hulp aangebied het, nadat daar in April verwoesting gesaai is deur ‘n aardbewing in dié land.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Soldate staan ​​bo-op ‘n hoop rommel in Marrakech.

Bron: Twitter