Deur Zukile Majova
Moenie ‘n tjankbalie wees nie; Fase 6 is korttermyn pyn vir langtermyn gewin.
Dit is president Cyril Ramaphosa se gevoel oor die terugkeer van sware beurtkrag wat die ekonomie weer meer as R1 miljard per dag kos.
Die president het ‘n beroep op die land gedoen om Eskom te verdra terwyl daar gewerk word aan die instandhouding van sy verouderde steenkool-elektrisiteit opwekkingseenhede wat tydens spitsaanvraagperiodes uitskop.
Die land is Sondagoggend in Fase 5 en Maandagoggend in Fase 6 gedompel, wat daartoe gelei het dat huise en nywerhede ten minste 10 uur se elektrisiteit per dag verloor het.
Selfs besighede wat gebeurlikheidsplanne vir Fase 2 tot Fase 4 het, het gesê hulle sukkel om voorsiening te maak vir Fase 6 waar ‘n enkele onderbreking vier ure duur.
“Wat ons nou deurmaak, word veroorsaak deur wat Eskom moet doen om die generasie van ons vloot te herposisioneer,” het Ramaphosa na sy vraag-en-antwoordsessie Maandag in die Parlement aan joernaliste gesê.
“Daar is dus korttermynpyn. Op die lang termyn is dit dinge wat ons moet doen om afskeid te neem van beurtkrag,” aldus Ramaphosa.
“Hulle hou ons vloot in stand. Dis nou wel Fase 6, maar dis korttermyn van aard.”
Hy het gesê die minister van elektrisiteit het hom deeglik ingelig oor die prosesse waardeur Eskom werk.
Eskom het bevestig dat ‘n moeilike week vir die SA ekonomie voorlê.
“Fase 6-beurtkrag sal vanaf Dinsdag 5vm geïmplementeer word tot verdere kennisgewing,” het dit aangekondig.
“Deur die nag sal ‘n verdere twee eenhede by Lethabo en Matla kragstasies buite werking moet wees vir dringende herstelwerk.”
Met verwysing na die omvang van die onbetroubaarheid van sy verouderde vloot, het Eskom gesê die land verloor 22,104 MW elektrisiteit weens onklaarrakings (16,210 MW) en beplande instandhouding (5,894 MW).
Op die foto hierbo: President Cyril Ramaphosa betrek parlementslede Maandag tydens ‘n V&A-sessie
Bron: @PresidencyZA