Deur Everson Luhanga
Die nagmerrie van ‘n vlammehel wat ‘n gebou in Johannesburg se middestad gistraand in puin gelê het, gaan nog lank by oorlewendes spook.
Magrett Amini het angstig gewag vir owerhede om haar in die verbrande gebou in te laat om na haar broer en skoonsuster te soek.
Die Malawiese burger het gesê twee van haar familielede het gewoon in die gebou wat aan die brand geslaan het.
“Toe ek hoor die gebou is aan die brand, het ek daarheen gehardloop om uit te vind of my familie okei is,” het sy gesê.
Maar die polisie het reeds die toneel afgesper en niemand toegelaat om verby die polisieband te beweeg nie.
Sy het gesê sy weet nie of hulle onder die dooies is of dié wat hospitaal toe geneem is nie.
“Ek is bekommerd. Ek weet nie wat om te doen nie,” het sy gesê.
Said Juma, oorspronklik van Tanzanië, het gesê hy het van die derde verdieping van die gebou af gespring om van die vlamme te ontsnap.
Hy het gesê hy het op sy maag geval en meestal sy vingers beseer.
Toe die Scrolla.Africa-span hom ondervra het, het die vingers aan sy regterhand, toegedraai in swart plastiek, steeds bloed gedrup.
‘n Span paramedici het opgedaag en hom na die ambulans geneem waar hy behandel is.
Nog ‘n oorlewende, Jagg Master, het ook van die derde vloer af gespring.
Scrolla.Africa het hom gewaar terwyl hy mank tussen die skare beweeg en gekyk het hoe die owerhede op die toneel werk, voordat hy in die ambulans opgeneem is vir behandeling.
Jagg het gesê hy is bly dat hy die brand oorleef het.
“Ek is gelukkig dat ek lewe. Ek kon net nog ‘n statistiek onder die dooies gewees het. Ek dank God dat Hy my die moed gegee het om van so hoog af te spring,” het hy gesê.
Dr Mgcini Tshwaku, lid van die burgemeesterskomitee vir Openbare Veiligheid, het gesê mense het woonplekke binne die gebou opgerig.
“Dit was moeilik vir mense om uit die gebou te ontsnap weens die diefwering wat aangebring is om kamers af te baken,” het Tshwaku gesê.
Hy het gesê die meeste mense wat geraak is, het op die derde verdieping gewoon.
Terwyl politici na die toneel gestroom het om die huidige regering vir die tragedie te blameer, moet baie families nog die geliefdes identifiseer wat hul lewens verloor het tydens die tragedie.
Forensiese spanne het die dooies na lykshuise in Diepkloof en Hillbrow geneem.
76 Mense het tot dusver hul lewens in die tragedie verloor.
Op die foto hierbo: Die toneel van die brand
Bron: Everson Luhanga