Deur Zukile Majova
Atletiek Suid-Afrika se president, James Moloi, laat sak nie sy kop in skaamte ná die jammerlike vertoning van SpanSA by die Wêreldkampioenskappe in Boedapest, Hongarye nie.
Moloi, wat ‘n span van 36 atlete na die wêreldwye atletiekbyeenkoms gestuur het, hou vol dat dit nie so ‘n groot ramp was om sonder ‘n enkele medalje huis toe te kom nie.
Hy dring daarop aan om sy werk te behou, en hoop om volgende keer beter te vaar.
Besef hy dis net 11 maande (26 Julie tot 11 Augustus 2024) voor die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk?
Ná nege dae het kampioenskappe tot ‘n einde gekom sonder dat ‘n enkele Suid-Afrikaanse atleet Sondagaand om enige van die laaste 21 medaljes meegeding het.
“Ons atlete het werklik alles gegee om ons nasie met trots te verteenwoordig, en die afwesigheid van medaljes moet nie as die einde van die saak gesien word nie,” het Moloi gesê.
“Kompetisie by die Wêreldkampioenskappe is ongelooflik straf, en om medaljes los te slaan is in werklikheid baie meer uitdagend as wat dit lyk.”
Moloi het gesê dit is tyd om die opgewondenheid oor atletiek in Suid-Afrika aan te vuur, en dat talent regoor die land gesoek sal word.
Hy kon nie besonderhede gee oor hoe dit bereik sou word nie, met die meeste staatskole wat nie meer by die nasionale skole-atletiekkalender betrokke is nie.
Min skole in townships en op die platteland het enigsins atletiekbane of ander hulpbronne.
“Dit is tyd dat ons van vooraf begin, met ‘n poging om rou talent in landelike gebiede op te spoor. Ons moet ons daarvan weerhou om die vinger te wys na gesoute atlete soos Akani en Wayde.
“Hul toewyding en verteenwoordiging van ons land het deur die jare as voorbeeld gedien. Ons fokus moet nou verskuif na samewerking met die provinsies om vars talent te vind sodra ons tuis is,” het hy aan SABC Sport gesê.
Die afgelope dekade is die meeste van Suid-Afrika se medaljes deur die swemspan gewen.
Caster Semenya, die 800m-spesialis, Wayde van Niekerk die 400m-wêreldrekordhouer, en verspringer Luvo Manyongo het Mzansi se vlag in baan- en velditems laat wapper.
Op die foto hierbo: Prudence Sekgodiso het vir die halfeindronde van die 800m gekwalifiseer, maar het gestruikel tydens haar kwalifiseringswedloop vir die finaal
Bron: @WorldAthletics