Motorongeluk eis Bok-legende

RIP Theuns Stofberg

Op die vooraand van die 2023 Wêreldbeker is Theuns Stofberg, eens ‘n gerekende Springbok-flank en Bok-kaptein, Woensdagoggend oorlede.

Die 68-jarige het veelvuldige beserings opgedoen in ‘n motorongeluk waarby twee ander motors Maandagaand naby Stellenbosch op die R304 betrokke was.

Staphanus Rabie, Stofberg se skoonseun, het Woensdagoggend in ‘n verklaring die nuus van die voormalige Springbok-flank se heengaan bevestig.

“Nooddienste kon Theuns uit die voertuig sny en het hom in ‘n kritieke toestand na ’n privaat hospitaal vervoer, waar hy in die waakeenheid behandel is.

“Sy beserings was egter te ernstig vir sy liggaam om te herstel en hy is vroeg Woensdagoggend oorlede,” het Rabie gesê.

Stofberg het 21 toetse vir die Springbokke gespeel tussen 1976 en 1984 en hulle in vier aangevoer, insluitend teen Engeland in 1984.

Rob Louw, self ‘n hoogs aangeslaande losvoorspeler, het in ‘n twiet gesê Stofberg was waarskynlik die beste nommer sewe-flank van die 80s.

“Hy was ‘n spesiale speler, voor sy tyd. Ek en Morne du Plessis het gereeld saam met hom oor ‘n pizza die goeie tye onthou,” het hy gesê.

“RIV, ou maat.”

Du Plessis, Louw en Stofberg was in die 80s ‘n gedugte Springbok-agterry.

Stofberg het vir Vrystaat, Noord-Transvaal en Westelike Provinsie gespeel en hou steeds die rekord as enigste speler wat die Curriebeker met drie verskillende unies gewen het.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Theuns Stofberg

Bron: Springbokke