Deur Mpho Nakana
Suid-Afrikaners gaan ‘n intieme blik kry op die lewe van ikoniese kwaito-kunstenaar Mandoza; die eerste episode van die biografiese reeks ‘Nkalakatha: The Life of Mandoza’ het ons skerms Woensdagaand getref op die BET Africa kanaal.
Die reeks bestaan uit ses episodes wat Mandoza se lewe weerspieël, van sy moeilike grootword-jare in Soweto se Zola-township, tot ‘n ster wat die Suid-Afrikaanse kultuur vervorm het.
Mandoza, wie se regte naam Mduduzi Tshabalala was, is in 2016 dood.
Sy trefferliedjies soos ‘Nkalakatha’ en ‘Godoba’ is steeds geliefd by die generasie wat hul verlekker het in sy talent tydens die vroeë jare van Suid-Afrika se demokrasie.
Mandoza was die eerste kwaito-kunstenaar wat die wit mark kon binnedring danksy die supertreffer ‘Nkalakatha’, wat in 2000 vrygestel is. Die aantrekkingskrag het ook gelê in sy bonsende basklanke, so belangrik in die rock-genre.
Niemand het nog ooit sulke kwaito gehoor nie en dit het vinnig een van Suid-Afrika se nie-amptelike volksliedere geword wat skares uit verskeie kulture en vlakke van die samelewing verenig het.
‘Nkalakatha’, wat Grootbaas in kasi-taal beteken, het ‘n gereelde kenmerk in ons stadions geword.
Een van die belangrikste samewerkings wat genres oorkruis het in Suid-Afrikaanse musiek was dié van Mandoza en popsanger Danny K, toe hulle die album ‘Same Difference’ in 2004 vrygestel het. ‘n Spesiale vriendskap was gesmee.
Die akteur Wiseman Mncube is die hoofrolspeler wat Mandoza se ikoniese opgang, van die tronk tot groot musiekroem, vertolk.
Mncube het rolle in ‘Uzalo’ en ‘eHostela’ gehad en is tans op ons skerms as Zwide in die Shaka Zulu-biografie, ‘Shaka iLembe’.
Die aktrise Lorraine Moropa vertolk die rol van Mandoza se vrou, Mpho Tshabalala. Moropa se loopbaan sluit ‘n rol in die Ferguson Productions-telenovela ‘The Queen’ in, waar sy die niggie van Connie Ferguson se karakter gespeel het.
Ander ondersteunende rolle word vertolk deur Lillian Dube, Dawn Thandeka King en Mzambiya.
‘Nkalakatha: the Life of Mandoza’ word op Woensdae om 9nm op BET Africa (DStv-kanaal 129) uitgesaai.