Mark Zuckerberg het beweer Elon Musk “is nie ernstig ” oor hul voorgestelde hokgeveg nie en bygevoeg: “Dit is tyd om aan te beweeg.”
Die dispuut oor die potensiële geveg tussen die tegnologie-miljardêrs is in volle swang, met Musk wat op sy boodskapplatform X (voorheen bekend as Twitter) voorgestel het dat hy bereid was om so vroeg as Maandag deur die spreekwoordelike toue te klim.
Zuckerberg, uitvoerende hoof van Meta, het in ‘n sosiale media-plasing op sy platform Threads onthul dat hy aan Musk ‘n datum vir die geveg voorgestel het, maar beweer Musk hou aan verskonings maak.
Ondanks die hewige bekgeveg is ‘n konkrete datum vir die hokgeveg nooit bevestig nie, wat twyfel laat ontstaan of die geleentheid werklik gaan plaasvind, het BBC berig.
Die wedywering het toegeneem met die bekendstelling van Threads in Julie, wat binne ‘n week meer as 100 miljoen intekenare gelok het. Musk se X-platform behou egter steeds sy voorsprong met ongeveer 350 miljoen gebruikers.
‘n Regskonflik het ook ontstaan, met Musk wat gedreig het om Facebook (Meta) te dagvaar vir “onwettige wangebruik van Twitter se handelsgeheime”.
Zuckerberg se jongste plasing op Threads het verwys na sy frustrasie met Musk se gebrek aan toewyding.
“Elon sal nie ‘n datum bevestig nie. Eers sê hy dat hy geopereer moet word, en nou vra hy om eerder ’n oefenrondte in my agterplaas te doen,” het Zuckerberg gesê.
“As Elon ooit ernstig raak oor ‘n regte afspraak en ‘n amptelike geleentheid, weet hy hoe om my te bereik. Andersins, is dit tyd om aan te beweeg. Ek gaan daarop fokus om te kompeteer met mense wat die sport ernstig opneem.”
Musk het Zuckerberg in reaksie op X as ‘n “bangbroek” bestempel en ‘n SMS-uitruiling tussen hulle gedeel.
Saamgestel deur personeelskrywer
Op die foto bo: Elon Musk en Mark Zuckerberg
Beeldbron: Twitter