Deur Razeen Gutta
Spanje het teen alle verwagtinge vir Swede met 2-1 in Auckland verslaan. Hulle sal dus hul eerste finaal ooit in die Fifa Wêreldbeker-toernooi vir vroue speel.
Die wankelrige bestuur van die Spaanse vrouespan onder afrigter Jorge Vilda was die hele toernooi lank ‘n onderwerp van bespreking. Maar die spelers was bo hierdie praatjies verhewe. Hulle het die praatwerk gedoen waar dit geld – op die veld.
Die span met hul nuwe voorkoms het alles gegee in Dinsdag se laaste-vier ontmoeting met Swede, maar toe die amptelike speeltyd oor is was daar steeds werk om te doen.
Na 80 minute sonder enigeiets om op die doellyn te vier, het die laaste 10 minute vir almal by Eden Park iets gegee om oor te juig.
In hierdie doelhok-aangeleentheid het Spanje soveel moontlik aan die bal vasgehou, terwyl Swede geleenthede geskep het.
Die bal het sy pad na die net se agterkant gevind – en dit was Spanje se heel eerste skoot om die teiken te tref. Barcelona se Salma Paralluelo het dit 1-0 vir La Roja gemaak, maar Swede se Rebecka Blomqvist het sake weer gelykop laat loop.
Sekondes voor ekstra tyd het Olga Carmona egter die wenner ingepiets, en daarmee Sweedse Wêreldbeker-drome verpletter.
Dit is Swede se vierde halfeindstryd-nederlaag in die kompetisie. Hulle sal die verloorder van Australië en Engeland in die derdeplek-uitspeelstryd aanvat, terwyl die wenner Spanje in Sondag se eindstryd sal pak.
Op die foto hierbo: Salma Paralluelo
Bron: @FIFAWWC