Kyk wie’s terug!

Siya is back

Deur Lucky Maree

Die vraag op die lippe van miljoene Suid-Afrikaners die hele week, is nou beantwoord.

Siya Kolisi is terug en hy sal Saterdag die Springbokke teen Wallis aanvoer.

En met daardie vraag beantwoord, duik die volgende vraag op: gaan hy sy eerste veldbesoek beseringsvry voltooi?

Die besering wat die Franse losskakel Romain Ntamack sy plek in die Wêreldbekergroep laat verloor het, neem lank om te genees. Kolisi se herstel is reeds as wonderbaarlik beskryf.

Die bestuur sou hom nie laat speel het as hulle nie vertrou het dat hy dit sal maak nie. Maar dit kan slegs op die veld getoets word. Net die tyd sal leer.

As die keuse iets is om van te oordeel, lyk dit of die Springbok-bestuur sy hele pak kaarte gesig-op geplaas het. Hopelik is die dae van eksperimentering vir eers verby.

Die sonder-foefies spankeuse het ‘n kragtige vaste vyf met Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe in die voorry, en slotte RG Snyman en Jean Klein agter hulle.

Jasper Wiese en Pieter-Steph du Toit sluit aan by Siya Kolisi om ‘n besonder ernstige lostrio te vorm.

Manie Libbok is op losskakel waar hy hoort en daar kan van Jaden Hendrikse verwag word om goeie, vinnige diens te lewer, met Damian de Allende en Jesse Kriel op middelveld.

Hopelik kry Cheslin Kolbe en Canaan Moodie kans om hul bene bietjie te rek, en Willie le Roux sal belas wees om die wedstryd wyd te hou.

Maar waar is Eben Etzebeth, Faf de Klerk, Kurt-Lee Arendse en Makzole Mapimpi? Hulle sal vermoedelik volgende week hul kans teen die All Blacks kry.

Springbokke: 15 Willie le Roux, 14 Canan Moodie, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Cheslin Kolbe, 10 Manie Libbok, 9 Jaden Hendrikse, 8 Jasper Wiese, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (c), 5 RG Snyman, 4 Jean Kleyn, 3 Frans Malherbe, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff.

Bankie: 16 Bongi Mbonambi, 17 Ox Nche, 18 Vincent Koch, 19 Franco Mostert, 20 Marco van Staden, 21 Duane Vermeulen, 22 Grant Williams, 23 Damian Willemse.

Op die foto hierbo: Siya Kolisi

Bron: Springbokke