Kaapse straatverkopers tel die stukke op

Street vendors after Cape taxi strike

Deur Buziwe Nocuze

Baie van Kaapstad se straatverkopers wat moedig ‘n bestaan ​​bymekaargeskraap het, moes toesien hoe hul drome aan skerwe spat binne dae nadat die gewelddadige Santaco-taxistaking uitgebreek het.

“Die staking het almal verstom,” het Noncedo Dikwana gesê.

Dikwana was een van talle verkopers wat gewerk het by die Nyanga-busterminus, wat ook as taxistaanplek dien, toe die staking op Donderdag 3 Augustus aangekondig is.

Die handelaars het geweet dat plundery en geweld enige oomblik kon uitbreek, en het inderhaas hul stalletjies begin oppak.

“Hulle het dit aangekondig toe ons reeds by die terminus was. Ons was nog besig om ons goed op te pak toe ‘n bus aan die brand gesteek is.”

Sy sê pandemonium het ontstaan ​​toe geweerskote begin klap het, wat almal in die omgewing gedwing het om vir hul lewens te hardloop.

“Ons kon nie ons goed ordentlik gepak kry nie, want ons was bang ons word geskiet. Misdadigers het tydens die deurmekaarspul kans gekry om hulself te help,” het sy gesê.

Ten spyte daarvan dat hul lewens in gevaar was, het hulle daarin geslaag om ‘n paar items te red voordat hulle gevlug het.

‘n Ander verkoper het gesê dit is hartverskeurend om te sien hoe hul lewensbestaan ​​verbrokkel.

“Daar was ‘n groot vrugte- en groentestalletjie waar ons meeste van ons voorraad uitgestal het. Dit is afgebrand en die voorraad is gesteel. Dit is hartseer. Ons gebruik die geld om vir ons gesinne te sorg en nou is dit weg.”

Ten spyte van die verwoesting, en gedryf deur hul vasberadenheid om hul gesinne te onderhou, het sommige verkopers besluit om van nuuts af te begin. Maar die pad vorentoe is gevul met onsekerheid en probleme.

“Die mense wat die staking begin het is terug by die werk en gewaarborg om geld te verdien omdat ons hul taxi’s gebruik. Maar wat van ons – hoe lank gaan dit vat voor ons weer besigheid kan doen?” vra die verkoper.

Siyolise Mbuku het gesê daar lê yslike uitdagings voor vir verkopers.

“Niemand gaan ons help nie. Sommige van ons het ons WVF-geld gebruik om besighede te begin sodat ons nie vir aalmoese hoef te vra nie. Hoe nou gemaak om ons sake weer op dreef te kry?” het Mbuku gevra.

Sy het die optrede bevraagteken van die taxibestuurders wat by die terminus was toe die staking begin het.

“Hulle het ons in die steek gelaat. Ek is seker die misdadigers sou nie ons goed vernietig of verbrand het as die bestuurder daar was nie. Ek wil weet hoe hulle voel om terug te wees in die tuig terwyl ons so sukkel,” het Mbuku gesê.

Met hul stalletjies verbrand en hul voorraad gesteel, worstel die straatverkopers met die uitdagende taak om hul lewens van nuuts af te herbou.

Die staking het wel Donderdag tot ‘n einde gekom, maar die tol geëis op motoriste, staatsvoertuie en besighede kom nou eers ten volle na vore.

Op die foto hierbo: Straatverkopers het amper alles verloor in die Santaco-staking wat Donderdag geëindig het

Bron: Buziwe Nocuze